Update
HESSEQUA NUUS - Die brandstofprys wat einde April vir die derde keer vanjaar styg raak ook landbou se insetkoste.
Die prys van petrol styg op 1 Mei met R0,56c/liter, terwyl die prys van diesel met R0,05c/liter en paraffien met R0,01c/liter toeneem.
Die styging in brandstofpryse het boere moedeloos, maar aan gaan lê dink hulle nie eens nie.
Johannes Joubert boer saam met sy broer Geoffrey met graan en vee op die plaas Kweekkraal op die vlakte. "Brandstofverbruik is 'n baie groot uitgawe en die stygende dieselkoste het 'n direkte invloed op die insetkoste van plant, spuit en veevoer," vertel hy.
"Ons kom veral die styging agter wanneer ons aan die einde van die maand die rekeninge kry. Gewoonlik bestel ons vooruit tussen 10 000 en 20 000 liter diesel en die prysstyging maak nogal 'n groot verskil aan ons rekening."
Hy meen boere het nie beheer oor die prysstygings nie, want dit word volgens 'n formule bepaal wat van 'n klomp faktore, soos die rand/dollar-wisselkoers, afhanklik is.
"Ons is prysnemers wat insetkoste betref, want ons het ook nie daaroor beheer nie, net soos wat ons ook nie regtig beheer het oor die pryse waarvoor ons produkte verkoop word nie."
"Ons het twee bitter moeilike jare agter die rug en die hoër dieselprys maak dit nie makliker nie. Maar ons het goeie reën gehad - dit het Sondagnag tussen 15 en 20 mm op die plase waar ek boer, gereën. Ons het egter opvolgreën nodig. Ons het reeds kanola geplant en is besig om gars te plant. Ons hoop op 'n goeie opbrengs om op te maak vir die hoër dieselprys. Ons moet positief bly, anders moet ons by die see gaan sit," grap hy.
Volgens die AA kan die styging in die petrolprys toegeskryf word aan die hoër internasionale petrolprys, wat op sy beurt toegeskryf word aan die hoër olieprys (Dinsdag 23 April reeds $74/vat). Die klein verhoging in dieselprys is ook te danke aan 'n klein internasionale prysstyging, maar omdat dit lente raak in die noordelike halfrond neem die vraag na diesel vir verhitting af. Die AA het die stabiele prys van paraffien verwelkom, veral omdat die winter hier om die draai is en baie gesinne van paraffien vir verhitting afhanklik is.
• Lees 'n vorige artikel hier: Duurder brandstof knou boere
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'