STILBAAI NUUS - Gerugte dat 'n onwettige hoenderslagtery op 'n plaas tussen Stilbaai en Jongensfontein deur die gesondheidsinspekteur gesluit is, is blykbaar onwaar.
Inligting wat Suid-Kaap Forum ontvang het, lui dat die inspekteur die boer aangesê het om sy hoenders na 'n geregistreerde slagpale te neem om geslag te word.
Die informant, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dat die inspekteur blykbaar getrek het en toevallig op die boerdery afgekom toe hy goed na 'n stoorplek geneem het.
Die Forum het 'n navraag aan Haemish Herwels, hoof van munisipale gesondheid by die Garden Route-distriksmunisipaliteit in dié verband gerig. Hy het egter gesê dat hulle geen kennis dra van 'n omgewingsgesondheidspraktisyn wat 'n hoenderslagtery op die betrokke plaas gestop of gesluit het nie, hetsy onwettig of wettig.
"Inteendeel het die eienaar van die plaas ter sprake ons kantore vir vereistes rakende die verwerking en verkope van hoender en hoenderprodukte genader. Die eienaar het ook versoek dat 'n inspeksie op 'n perseel op sy plaas uitgevoer word sodat hy 'n geskiktheidsertifikaat vir die voedselperseel kan bekom, sodoende sy produkte wettig te kan verwerk, bemark en verkoop," het Herwels gesê.
Die eienaar het hom ook ingelig dat hy tans sy hoenders by 'n geregistreerde hoenderslagpale by Middelplaas op Albertinia slag.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'