Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - "Ek onthou Nico se laaste woorde aan my: 'Sit jou radio se volume 'n bietjie harder...'."
Kobus Crous, 'n gesoute helikoptervlieënier en eienaar van Mossel Bay Helicopters, en sy vriend van 36 jaar, Nico Heyns, het Dinsdagoggend vanuit twee helikopters die verswelgende brande in die Vermaaklikheid-gebied met waterbomme bestook, toe die legendariese Heyns dood is na sy helikopter neergestort het.
Heyns het Maandag en Dinsdagoggend saam met Crous 'n reusetaak verrig in die bestryding van die brand.
Heyns, wat 36-jaar gelede vir Crous opgelei het in die kuns van vastevlerkvlieg, het omgekom toe die Huey-helikopter wat hy namens Working on Fire gevlieg het, by Oshoek geval het.
'n Hartseer, geskokte Crous sê daar steek geen waarheid in gerugte dat Heyns beheer oor die helikopter verloor het nie.
"Ons was deurentyd in kommunikasie - ons het dieselfde vlieglyn gebruik en by dieselfde plek water geskep.
Daar was geen spotter-vliegtuie nie, ons moes dus deurentyd praat om te weet waar die ander een is en om raad aan die grondspanne te gee.
"Net voor die ongeluk was ek en Deon van Wyk van die Garden Route-distriksmunisipaliteit besig met 'n verkenningsvlug.
Ons het juis na 'n gevaarlike gebied gekyk waar ons gevrees het die brand oor 'n pad sou spring - wat toe ook ná die helikopterongeluk gebeur het. Ek was net weer op die grond om die bambisak te koppel en brandstof vir die helikopter in te neem toe ek oor die radio hoor dat 'n tjopper geval het.
Nico Heyns Foto: Pauline Lourens
"Ek is onmiddellik na die toneel waar grondspanne besig was om hulp te verleen. Vanuit die lug kon ek sien die wrakstukke was oor 'n wye gebied versprei. Dit wil voorkom asof daar probleme met die helikopter was voor dit neergestort het."
Crous beskryf Heyns as 'n vlieënier wat nooit kanse gevat het nie. "Hy was 'n uiters versigtige vlieënier en het 'n passie vir vlieg gehad. Hy het sy hele lewe aan die lugvaart gewei. Ek was Nico se tweede of derde student in vastevlerk by die vliegskool wat hy op Mosselbaai bedryf het voor hy na Knysna verhuis het. Daar het hy vir sy vliegkuns gelewe; die helikopter was voor sy huis geparkeer.
"Ek het met sy kinders gepraat en hulle hanteer die tragiese gebeure onder die omstandighede goed."
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n verwante artikel: Fatal helicopter crash during firefighting
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'