RIVERSDAL NUUS - In 'n museum kan die kleinste voorwerp tot 'n hele ontdekkingsreis van interessante gewaarwordinge lei. 'n Baie bejaarde dame wat saam met haar man die Julius Gordon Africana Sentrum kom besoek het, oorhandig op 'n dag aan my 'n pragtige paar ivoorkleurige syhandskoene en sê dit het aan barones Von Ludwig, haar ouma, behoort.
Na hul vertrek begin ek ondersoek instel.
Wie was die baron en barones Von Ludwig? Sy was Eliza Griffith, van New Town in Wallis, voor sy met Carl Ferdinand Heinrich Ludwig getroud is. Maar wie was die Baron von Ludwig? Hoekom was die 'Von' dan nie uit die staanspoor by sy van bygevoeg nie?
Hy het by 'n apteek naby Stuttgart in Duitsland 'n vakleerlingskap gedoen voor hy in 1804 na Amsterdam is, waar hy eers by 'n apteker en later in 'n chemiese laboratorium gewerk het. Hy hoor dat 'n dr. Liesching in Kaapstad 'n apteekassistent soek en vertrek per skip na Kaapstad. Sy farmaseutiese kwalifikasies is deur die hoogste mediese komitee in 1807 goedgekeur en hy was in daardie stadium een van net nege mense in die Kaap wat as apteker kon werk.
Met sy wetenskaplike belangstellings en bevoegdhede, word hy vanaf 1815 'n versamelaar van natuurwetenskaplike spesies. Hy het saam met verskeie mense voorbeelde van plante versamel in onder meer die Swellendam- en Caledon-distrikte. Hy het plante-, insekte-, skulp- en selfs voëlspesie-versamelings (laasgenoemde nie deur hom self versamel nie) na die Koninklike Natuu-rgeskiedenis Museum in Stuttgart gestuur. Hiervoor het die koning van Württemberg hom tot ridder geslaan en die 'Von' is by sy van gevoeg.
In Suid-Afrika het hy in 1829 'n botaniese tuin op een hektaar langs Kloofstraat, wat hy self gefinansier het, gestig. Ná sy dood is dit Ludwig'burg genoem.
Hy is veral bekend daarvoor dat hy deur die jare die jakarandaboom en baie ander plante uit Brasilië in Sentraal Suid-Amerika ingevoer het. Vandag versier die boom talle stede soos Pretoria en dorpe soos Riversdal. Dit is in 2001 tot indringerplant verklaar en mag glad nie meer aangeplant word nie.
Dis wonderlik wat 'n mens alles van 'n paar handskoene kan leer...
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'