SUID-KAAP - Louis Henry Meurant se pa was 'n Franssprekende Switser en sy ma van Engeland. Hulle het na Suid-Afrika gekom en hul seun is toe in 1812 gebore. Sy ouers is oorlede toe hy 14 is. In 1828 is hy na Graaff-Reinet en het hom later in Grahamstad gevestig. Gedurende die Groot Trek in 1837 het hy as tolk opgetree toe Grahamstad aan die Voortrekker, Jacobus Uys 'n Bybel oorhandig het.
Meurant het aan Piet Retief 'n boek oor Romeins-Hollandse Reg as aandenking gegee met die Groot Trek. In 1853 is hy as landdros aangestel en in 1859 verplaas na Cradock.
In 1861 publiseer hy sy bekende 'Samespraak tussen Klaas Waarsegger (sy skrywersnaam) en Jan Twyfelaar, over het onderwerp van afskeiding tussen die Oosterlike en Westerlike Provinsie', die eerste boek wat ooit in Afrikaans gepubliseer is.
In 1877 is hy na Riversdal verplaas. Hy is toe betrokke met die stigting van 'n landbougenootskap. Op 66 het hy as kommandant van Riversdalse/Oudtshoornse burgers die Oostelike grens, sonder lewensverlies, verdedig. Tien man was gekleurde mans en almal het ook medaljes ontvang. In 1932 is 13 ou medaljes in die landdroskantoor gevind, wat as syne geïdentifiseer is, deur 'n mnr. Purchase. Hy was berug as 'n baie streng landdros. Hy het almal oor dieselfde kam geskeer en geen oortreding is oorgesien nie.
Hy is dieselfde dag as wat die Ou 'Goukou'-brug vir die publiek oopgestel is en waarvoor hy so hard gewerk het, oorlede.
Meurant Park se onderhoud het hy vir jare self betaal. Hy het vele uitheemse plante na Riversdal ingevoer, onder andere Tolboom. Hy het die eerste Tygervy (gestreepte vy) hier gekweek.
Hy was 'n stigterslid van Lodge Frere van die Vrymesselaars op Riversdal.
- Opgestel deur die kurator van Julius Gordon Africana Sentrum/ Versfeld Huis).
Louis Henry Meurant. Foto: Argief'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'