Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Water in riviere in die streek is oor die algemeen van goeie standaard.
So sê Wim Filmalter van die landboudepartement se Landcare-afdeling. Die riviere sluit die Duivenhoksrivier by Heidelberg, Vette- en Korenterivier by Riversdal, die Goukourivier wat by Stilbaai in die see loop en die Gouritsrivier wat by Gouritsmond in die see uitmond, in.
Hierdie riviere word deur die Breede-Gouritz Catchment Management Agency (BGCMA), wat vir die toedeling van water aan munisipaliteite en landbou verantwoordelik is, bestuur.
Die Breederivier, wat by Swellendam verbyloop, vloei by Witsand in die see, maar hoewel die hele streek onder die BGCMA val, word dié rivier se water nie in Hessequa gebruik nie. Water van die Korentepoortdam word met 'n pyplyn aan die suiweringsaanleg by die dorp gelewer, vanwaar dit versprei word. Water vanaf Overberg Water word aan Heidelberg, Slangrivier en Witsand gelewer. Stilbaai en Melkhoutfontein, asook Albertinia en Gouritsmond gebruik water uit boorgate en fonteine.
Boere in die voetheuwels van die Langeberg gebruik water uit bergstrome, terwyl boere laer af water van die Korente-Vette-besproeiingskema en die Grootbosberg-waterverbruikersvereniging kry. Water uit die Duivenhoksdam is vir huishoudelike gebruik en veesuipings geoormerk. Boere op die Vlakte is van boorgatwater afhanklik.
Kyk 'n video hieronder:
"Afloopwater wat van melkstalle en varkplase in riviere vloei versteur die ekologiese balans. Die water is ryk aan voedingstowwe en veroorsaak dat sekere waterplante soos die uitheemse waterhiasint en alge geil groei. Dié plante keer die sonlig en veroorsaak 'n tekort aan suurstof in die water, wat tot visvrektes kan lei."
Uitheemse indringerplante wat baie water gebruik, asook die onwettige onttrekking van water uit die riviere, kan daartoe lei dat te min water oorbly om die ekologie van die riviere lewensvatbaar te hou.
"In die berge is dit veral swartwattel wat langs die rivieroewers floreer, terwyl al meer opslag-dennebome water in hoërliggende gebiede opslurp. Laer af op die Vlakte en veral in die omgewing van Vermaaklikheid, groei rooikrans wat inheemse vleiland-plantegroei soos palmiet verdring. Luisbome is ook besig om vinnig langs die waterweë te versprei, veral omdat dit steeds in tuine aangeplant word." Die vlugtige olie in hierdie plante se blare hou 'n ernstige brandgevaar in. "Boere is verantwoordelik vir die verwydering en beheer van indringerplante, maar omdat dit 'n duur proses is bly dit agterweë. Dit is noodsaaklik dat hulle die jong boompies wat nou na verlede jaar se brande opslaan, verwyder. Dit kan gedoen word deur bespuiting met onkruiddoder vir houtagtige plante."
Kontak Landcare by 082 909 3956 of 044 803 3781/2 vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel hier: Indringers, afvloei bedreig riviere
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'