HESSEQUA NUUS - Vir die sewende agtereenvolgende jaar kan Hessequa-munisipaliteit met 'n skoon ouditverslag vanaf die kantoor van die ouditeur-generaal vir die 2019/20 finansiële jaar spog.
Volgens Johan Jacobs, munisipale bestuurder is dit elke amptenaar se bydrae en ingesteldheid van dienslewering, asook skoon prosesse op alle terreine wat uiteindelik tot skoon oudits lei.
"Wanneer elkeen verantwoordelikheid vir sy dagtaak aanvaar, 'n positiewe gees van dienslewering openbaar, die ekstra tree loop en besef dat ons deel van 'n goed geoliede masjien is, kom die soet vrugte van sukses vanself."
Hy het 'n spesiale woord van dank teenoor Lien Viljoen (hoof finansiële beampte), Louw de Villiers (bestuurder: strategiese dienste), asook Jonathan Kleinhans (bestuurder: informasie en kommunikasie tegnologie) en hulle onderskeie spanne uitgespreek en gemeld dat hierdie drie gedeeltes die kern van die oudit vorm.
Hy het verder beklemtoon dat geen sukses moontlik is in 'n onstabiele omgewing nie.
"Daarvoor bedank ek die burgemeester, Grant Riddles, die speaker, Andrew Stroebel en die volle raad dat Hessequa in 'n stabiele politieke omgewing met duidelike doelwitte en 'n gefokusde begroting kan funksioneer."
Riddles het ook sy waardering en gelukwense teenoor die raadslede, munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte, die direkteure en al die personeel uitgespreek.
"Ek is baie trots op al ons amptenare wat met hul toegewydheid verseker dat ons jaar na jaar hierdie uitsonderlike prestasie bereik. Baie dankie vir julle harde werk."
* Lees gerus die die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) se insiggewende verslag vrygestel op 30 Junie oor die stand van plaaslike regerings in terme van ouditresultate hier.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'