HESSEQUA NUUS - Die NSRI het die inisiatief geneem om torpedo reddingsboeie op strategiese plekke te plaas waar daar baie verdrinkings voorkom.
Die besluit is reeds verlede jaar geneem.
Hessequa-munisipaliteit het die aansoek om van hierdie boeie te borg goedgekeur en op 17 Januarie, die boeie aan die NSRI oorhandig. Theo Erasmus, stasiebevelvoerder van NSRI, stasie 33 (Witsand, Port Beaufort) het die boeie ontvang.
Erasmus het gesê: "Die idee is om die boei vir 'n persoon te gooi en dan die persoon aan die aangehegte tou uit die water te trek.
"Dit kan deur enige persoon gebruik word.
Elke NSRI-stasie is verantwoordelik vir die implementering van daardie stasie se area.
"Die hoof rede vir die ontplooiing is om verdrinking te verhoed deur vir die persoon iets te gee wat hy aan kan vashou wat dryf en vir mense 'n instrument te gee waarmee hulle iemand wat verdrink kan red.
"Na die byna verdrinking in November verlede jaar, waar Anrich Oktober vir Ethan Klim gered het, het ek 'n versoek aan die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, gerig dat Hessequa-munisipaliteit van die boeie borg."
Die borg van boeie is goedgekeur en daar gaan op Witsand, Slangrivier, Heidelberg se publieke swembad en Takkieskloof op Riversdal boeie geplaas word.
In Witsand-omgewing sal vier boeie geplaas word waarvan een op die strand sal wees, twee by Slangrivier, een by Heidelberg en een by Takkieskloof.
Persone wat belangstel om van die boeie te borg kan 'n e-pos aan hulle plaaslike NSRI stasie stuur by: kelly@searescue.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'