Gallery Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Nicky Franklin en haar Kasselshoop-span droom al sedert verlede jaar oor herwinningsprojekte.
"Wanneer droogte tref, leer dit jou nie net om met water spaarsamig te wees nie, jy besef opnuut hoe besonders die natuur is en dat jy alles moontlik moet doen om dit te help bewaar," vertel sy.
"Ons wou ook ons kaasmakers se gesinne bewus en betrokke maak en hulle daardeur bemagtig. Deur herwinning het iets mooi en nuut ontwikkel."
Omdat hul van verpakkingsbokse moes verander, het hulle aan idees gedink om die bokse wat hulle reeds gehad het vir 'n praktiese doel te gebruik. Baie besoekers vra vir 'n sak of boks wanneer hulle kaas koop.
"Ons het die langwerpige bokse gestaan en bekyk en besluit dit kan in 'n drasak verander word. Jowano en Angelo, twee van die kinders op die plaas, druk hul handjies in verf en versier vir ons die bokse. Hulle geniet dit baie."
Die handvatsels van die boks, of liewer sak, word gemaak van baaltou. Dié sakke word verkoop en die geld word gebruik om voer vir die kalwers te koop. Sakke wat gebruik word tydens die maak van die kaas, word ook herwin. "Ons wou eers eco-bricks daarvan maak, maar omdat stukkies kaas in die plastiek vassit, muf dit en kan ongesond wees. Voerbakke, daarenteen, staan in die son en kry lug."
Dié plastiek word in 'n vuurbestande gietvorm gesmelt om voerbakke vir die koeie te maak. Franklin beoog nog talle herwinningsprojekte aan te pak.
- Indien jy 'n verskil wil maak, sluit by die Whey forward pledge aan. Daarmee maak jy 'n belofte om 21 dae lank so 'groen' moontlik te leef deur natuurlike hulpbronne te bewaar.
Kyk 'n video hieronder:
Al die waswater van die fabriek word as besproeiïngswater gebruik. Dié water word eers deur ’n spaansrietbos se wortels gesuiwer.
Jowano Palison en Angelo Jansen is albei vier jaar oud. Hulle versier die bokse wat as ’n sak gebruik word en sit selfs partymaal bietjie handjie by met die boerdery. Foto’s: San-Marié Cronjé
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'