Update
HEIDELBERG NUUS - Sersant Peter de Lange (45) van Heidelberg-polisie se speurafdeling het Dinsdagoggend, 3 November om 06:27 in die Life Bay View privaat hospitaal op Mosselbaai gesterf na hy die vorige dag 'n beroerte gehad het.
Volgens sy seun, JR, was sy pa tydens sy etensuur by die huis en was hy op pad terug werk toe. Hy was blykbaar 'n klipgooi van hul huis toe hy 'n hewige beroerte-aanval gekry het.
Hy vertel hartseer dat die mediese personeel alles probeer doen het om sy pa se lewe te red.
De Lange, wat ook as priester by die Nuwe Apostoliese Kerk diens verrig het, is die derde plaaslike polisielid wat in die afgelope vier maande gesterf het. Die vorige twee lede is konstabel Landi Malgas wat in Julie, asook Samanthea Vryman, 'n adminklerk, wat in Augustus gesterf het.
De Lange, 'n boorling van Riversdal, is as een van die mees respekvolle lede deur vele van sy kollegas beskryf.
Buiten sy seun laat hy ook sy vrou Freda, met wie hy 19 jaar getroud was, asook 'n dogter, agter.
Vorige artikel: Heidelberg polisielid sterf
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'