Gallery
HEIDELBERG - Die Heidelberg-pampoenfees het nou wel nie vanjaar enige nuwe rekord opgelewer nie, maar wel 'n driekuns toe Willem le Grange, van Ruiterbos net buite Mosselbaai, vir die derde agtereenvolgende jaar met die louere weggestap het.
Le Grange se knewel van 'n pampoen het die skaal op 903 kg laat kreun.
FOTOGALERY: Heidelberg-pampoenfees
Die jaar se inskrywings was wel minder as gevolg van die baie reën wat in die streek geval het, maar dit het nie die geesdrif van die pampoenkwekers, die vele plaaslike inwoners asook hordes besoekers gedemp nie.
Die totale kontantpryse het R44 850 beloop, terwyl die drie watertenks en kunsmispryse van die drie wenners onderskeidelik R12 500 en R10 500 beloop het.
Die eerste prys was R20 000, die tweede prys R10 000 en derde prys R5 000.
Die verrigtinge het ook 'n 4x4-kompetisie en 'n gholfdag ingesluit. Verskeie sangers waaronder Steve Hofmeyr, Burger le Roux, die Kenny Hughes Trio, Gert Zandberg en andere het die aanwesiges van wyd en syd met sang en musiek trakteer.
Die plaaslike duo, Raymond Goddard en Boetie Willemse, wat as Stofpad bekend is, het ook hul staal met die musiekinstrumente gewys.
Benewens die vol program vir volwassenes, was die program ook kleuter- en kinder-vriendelik met verskeie trekpleisters soos springkastele en pendulumswaaie wat die jongspan gaande gehad het.
Daar was ook 'n skaakkompetisie in die skousaal en is deur die bekwame skaakspeler en -afrigter Gretha Conradie aangebied.
Rina Snyman, voormalige ontvangsdame by SKF, saam met haar neef, Renier Nagel.
Hugo en Reinette Truter, albei afgetrede opvoeders van Stilbaai, het spesiaal gekom om die die groot pampoene te besigtig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’