Vroeg-vroeg is daar met feitlik elke denkbare manier begin om die nodige fondse te in. Projekte is geloods, snoepie verkope gehou, koffie en ander eetgoed pouses aangebied, en baie meer.
Tussendeur is daar hard gewerk aan die voorbereiding van die saal - alles natuurlik in die strengste geheimhouding! Die tema het nooit uitgelek nie! Na die afhandeling van die uitstekende aand, het daar redelik fondse oorgebly.
Soos die gewoonte by matrieks is, gaan hulle ook 'n geskenk aan die skool gee, om ook daarmee dankie te sê vir hul deelname aan hul skooljare. Nou wat sal dit vanjaar wees? Wat sal 'n gepaste geskenk wees?
Nadat koppe bymekaar gesit is, is daar besluit om 'n ongebruikte area in te rig sodat leerders gedurende pouses, daar kan sit en hul broodjie in vrede geniet. Met die beskikbare R4400, is die nodige materiaal, bankies en tafels aangekoop. Daar was ook genoeg geld om 'n fonteintjie aan te skaf. Nou moes die werk verrig word... Die matrieks 2012 moes die rug buig en sweet afvee om die gebreekte klippies aan te ry en gelyk te werk. Nie dat dit 'n aktiwiteit was wat hul normaalweg sal verrig nie! Swaarkry is dalk 'n mooi woord.
So het onder hul hand hierdie nalatenskap vorm aangeneem en die resultaat 'n trots. Na die afhandeling van hul matriekeksamen, het hulle die tuin amptelik, gedurende 'n bring en braai, aan die skool oorhandig.

Die matrieks is hier hard besig om hul tuine in te rig.