STILBAAI NUUS - 'n Stilbaaier wat deur vriende op Facebook as 'n gentle giant beskryf is, is Saterdag 9 Mei onverwags oorlede.
Eben Mare wat saam met sy vrou Esmarie in Bessiestraat gewoon het, het 'n hartaanval tydens sy stappie vir oefening gekry. Hy was 70 jaar oud.
Volgens sy vrou het hy nie 'n geskiedenis van hartprobleme gehad nie, maar die linkerkant van sy hart was ietwat verswak na 'n probleem met sy gesondheid verlede jaar.
Saterdagoggend het hy die bulte om hul huis op en af gestap, omdat hulle weens die inperkingsreëls nie soos gewoonlik Skulpiesbaai toe kon gaan nie. Sy was besig om 'n musiekles vir die kleinkinders saam te stel en het tuis gebly. Sy vertel: "Ek het hom elke nou en dan voor die venster sien verbygaan. Die laaste keer het ek gesien hy sukkel met die bult op die Jongensfonteinpad en gedink dis gelukkig nog net 10 minute voor hy terugkom. Hy het nooit huis toe gekom nie."
Sy sê die werklikheid van alleenwees begin so stuk-stuk deurdring: "Ons was 47 jaar getroud en skielik is daar net 'n groot oop gat langs my wanneer ek wakker word. Ek is so bang ek val in die gat..."
Mare sal veras word en sy lewe sal later in die jaar gevier word: "Baie mense wat sy diens wil bywoon, kan nie nou reis nie. Ek sal 'n bankie met sy naam oprig en in Desember sal familie en vriende hopelik bymekaar kan kom om sy as by Morrispunt te strooi."
Benewens sy vrou laat hy drie kinders en ses kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'