Update
STILBAAI NUUS - Almal se lewens is ingrypend deur grendeltyd verander en georganiseerde kerkwees het dit beslis nie vrygespring nie.
Dominee Vian Louw van Stilbaai se NG-gemeente het, soos leraars landwyd, eerstehands ervaar hoe die praktiese uitlewing van geloof wat as vanselfsprekend aanvaar is, skielik nuut beplan moes word.
Hy is egter duidelik opgewonde oor die nuwe geleenthede wat dié krisis gebring het. "Daar is soveel positiewe dinge wat uit die probleem gekom het en ons uitdaging is om dit raak te sien."
Sy gedagtes loop ver paaie deur die geskiedenis wanneer hy verder praat. "Mense het uit die ergste oorloë en wêreldwye pessiektes opgestaan om daarna hoër hoogtes te bereik as ooit tevore. Ons moet die diepte van die huidige probleem verstaan, maar daarby verby na die geleenthede vir groei wat geskep is, kyk."
Uit 'n praktiese oogpunt is sy ervaring dat die aantal mense wat berading nodig het, dramaties toegeneem het. Dit maak egter terselfdertyd volgens hom die deur na hul harte wyd oop vir die Evangelie, omdat hulle nou anders daarna luister. Hy sê die praktiese uitvoering van berading het moeiliker geword, onder meer omdat liggaamstaal tydens 'n digitale gesprek nie meer 'n rol kan speel nie. Dis ook moeiliker om iemand op 'n afstand te troos.
'n Positiewe uitvloeisel van digitale pastoraat is wel duidelik onder jong mense, volgens Louw. "Hulle is baie tuis met sosiale media en dis nou makliker as ooit tevore om hulle te bereik."
Vir hom is 'n belangrike pluspunt die selfondersoek waartoe inperking baie mense gedwing het. Hy is opgewonde oor die aantal mense wat gevestigde gewoontes begin bevraagteken het. "Covid-19 het ons die wortel van die kwaad in sommige van ons sienswyses laat raaksien, want daar was tyd om fyn te luister en na te dink. Ek dink mense het nader aan mekaar en aan God gekom, ten spyte van fisiese afstand."
Op 'n meer humoristiese noot reken hy dis baie moeiliker om 'n digitale preek te lewer as om op die preekstoel te staan. "As jy van die kansel af iets verkeerd lees of 'n fout maak, is dit maklik om jammer te sê en aan te gaan. Met die video moet die ding eers geredigeer word en nou het almal tyd om weer en weer te luister en jou uit te vang!"
Hy sê die grense tussen denominasies in Hessequa het in dié tyd vervaag: "In die lig van die nood waarin soveel inwoners verkeer het kerke in al die dorpe met mekaar hande gevat om aan die liggaam van Christus gestalte te gee. Christelike getuienisse bars uit sy nate."
Vorige artikel: Kerkwees in 'n pandemie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'