STILBAAI NUUS - Net soos vir baie ander, was die inperkingstydperk vanweë die verspreiding van die koronavirus vir Adolf en Elza Botes van dié kusdorp nie lekker nie, veral omdat hulle nie met hul besighede, insluitende twee drankwinkels op die dorp kon voortgaan nie.
Só het Adolf besluit dat daar net een manier is om die beste van dié saak te maak en dit is om elke aand te braai.
Diegene wat Adolf ken, sal weet dat hy baie daarvan hou om vleis te braai en nadat die nodige inkopies teen Donderdag 26 Maart gedoen is, was hulle vir die 21 dae van inperking voorbereid. Deel van die daaglikse roetine, wat aanvanklik ook 'n paar vroegoggend kilometers om die huis en later 'n roete see toe ingesluit het, was die vraag deur die loop van die oggend: "Wat braai ons vanaand?"
Hulle het egter op hul gereelde braai-gunstelinge, soos steak, wors, varktjoppies en vis uitgebrei en hoender, potjie en selfs tuisgemaakte hamburgerfrikkadelle en sosaties, asook mielies, patats op die kole en roosterkoek vorm nou deel van die spyskaart. Daarmee saam geniet hulle gewoonlik braaibroodjies of pap en sous, groente en slaaie. Adolf hou getrou boek van elke aand se braaiete, asook watter wyn daarmee saam genuttig is.
Elza het aan die begin van 2020 gesê dat sy die hutsmerk #50in2020 gaan gebruik, aangesien sy haar 50ste verjaarsdag óók vanjaar vier en hulle moes dié 50ste verjaarsdag toe boonop gedurende die verlengde inperkingstyd vier - en wel met nóg 'n braai terwyl 'n bottel goeie vonkelwyn genuttig kon word.
En só het hul 70ste braai-aand aangebreek - op Donderdag 4 Junie - en die kans is goed dat hulle daarmee sal voortgaan... Adolf mik vir 'n 100-tal!
Op 'n vraag of hulle dan nie al moeg is vir braai nie, antwoord Adolf: "Braai is in ons bloed. Ons gaan vanaand wéér braai!"
Adolf het ook aangehou om soggens saam met Elza te draf en het sedertdien al in totaal net oor die 200 kilometer afgelê. Hy het boonop sy baard ook vir die eerste keer laat groei, wat nogal baie gepas is omdat Stilbaai Kelders, waarvan hy mede-eienaar is, die kas bier borg vir Suid-Kaap Forum/Group Editors se baardkompetisie.
Maar intussen, wat is dan nou lekkerder om teen 17:00 'n vuurtjie aan te steek en 'n vleisie oor die kole te braai?
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'