HESSEQUA NUUS - Die afgelope naweek toe 'n egpaar amper in die riviermond op Stilbaai verdrink het, maak 'n program soos dié wat Caville Abrahams, provinsiale verdrinkingvoorkomingsspanleier in die Wes-Kaap van die NSRI aanbied, uiters noodsaaklik.
Abrahams, in samewerking met Hessequa-munisipaliteit het op 4 Maart met 'n Survival Swimming-program in die Hessequa-streek begin.
Die eerste sessie het in Heidelberg by die plaaslike swembad plaasgevind. Riversdal was volgende op 5 Maart by die De Mist-swembed aan die beurt.
"Die program vind elke Saterdagoggend vanaf 09:00 tot 12:30 plaas en is gratis," sê Abrahams. Hy is tans ook besig om plaaslike instrukteurs op te lei om hierdie program in Riversdal te organiseer.
Die program is in twee dele opgedeel, naamlik die 13 les-plan, waar kinders op 'n struktuele manier vir 13 lesse geleer word.
Die ander deel is die survival swimming pop-up wat gewoonlik op naweke plaasvind, waar die kinders vir ongeveer 20 minute in die swembad is om vaardighede aan te leer.
"Die doel van die program is om kinders wat geen swemervaring het, of glad nie kan swem nie, te leer om hulle self te help wanneer hulle in gevaar naby of in die water is. Die program is ook daarop gemik om kinders gemaklik te maak wanneer hul naby water is," verduidelik hy.
"Indien 'n kind per ongeluk in die water val, word hulle geleer om hulself te kan help."
Die program is in vier kategoriëe/komponente opgedeel:
- Asemhalingbeheer
- Oriëntasie
- Dryf
- Beweging na veiligheid
Indien al hierdie komponte saamgevoeg word en suksesvol aangeleer is, kan die student vir meer as vyf meter tot by veiligheid beweeg of hom/haar self bo die water hou tot hulp opdaag.
"Waterveiligheidsprogramme is hulpmiddels om lewens te help red. Maar onthou: 'n kind word nooit verdrinkingsbestand nie. Hou altyd toesig oor kinders rondom water en skakel onmiddellik 112 in enige noodgeval," raai hy aan.
Indien jy by hierdie projek betrokke wil raak en as vrywilliger wil help, epos Abrahams by caville@searescue.org.za of besoek die NSRI webtuiste vir verdere inligting.
Lees vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'