STILBAAI NUUS - Die onafhanklike skool Grace Prep van Stilbaai se Paasnaweek-naggholf was vol opwinding en 'n reuse- sukses.
Die afwagting was groot toe 60 gholf-spelers Saterdagaand, 8 April, aangetree het vir Grace Prep se jaarlikse naggholftoernooi.
Sommige het dit al aangedurf, maar vir diegene wat dit die eerste keer gedoen het was dit maar 'n gedoente.
Naggholf word met spesiale balle gespeel wat gloei in die donker en die baan word soort van afgemerk met liggies.
As jy die baan goed ken, is dit natuurlik makliker want jy het 'n idee waar die setperke is. Vir die wat nie die baan ken nie is dit natuurlik net 'n saak van gebed en hoop op die beste.
Gelukkig was daar genoeg watergate om die senuwees te kalmeer en uiteindelik na die nege putjies was daar geen verloorders nie, want elkeen het met 'n prys weggestap.
Die beste ronde gholf is gespeel deur Tertius Venter en Mikal Theron.
Van die spelers het dan ook gesê dat hierdie toernooi hulle grootste verwagtinge oortref het en dat hulle verseker volgende jaar terug sal wees.
Grace Prep is tydens Covid in Stilbaai gevestig toe 'n moeder en opvoeder, Janine Potgieter, besef het dat daar 'n behoefte is aan 'n alternatiewe kurrikulum vir leerders. Hulle volg 'n internasionale kurrikulum van Amerika, die Accelerated Christian Education.
Die skool wil die bestuur en personeel van Stilbaai-gholfklub bedank, asook al die borge en spelers wat hierdie toernooi so 'n groot sukses gemaak het.
Tertius Venter (links) en Mikal Theron het die beste ronde gespeel. Agter in die middel staan Bez Bezuidenhout van Stilbaai-gholfklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’