HEIDELBERG NUUS - Heidelberg se gemeenskapspolisieforum, in samewerking met hul jeugtak het nasionale Kinderbeskermingsweek gevier deur praatjies by verskeie skole en ander plekke plaaslik, asook in Slangrivier en Vondeling aan te bied.
Die span, onder leiding van sers Imorgene Hendricks het Heinrich Hartnick, GPF-voorsitter, ao Andries Olivier verbonde aan die gesins kinder en seksuele (FCS)-eenheid, Charmaine Esau, GPF-jeugtakvoorsitter, asook Andrid Goliath, hulpopvoeder ingesluit. Nathan Ruiters, jeugaktivis en Raymond Saayman, kinderregte-aktivis het ook die groep ondersteun.
Op Dinsdag, 1 Junie het hulle die graad 10-leerders van Kairos Senior Sekondêre Skool toegespreek, terwyl hulle Woensdag ongeveer 50 kleuters en hul ouers in Diepkloof ook toegespreek het. Donderdag het hulle leerders by Vondeling en Slangrivier Primêre skole toegespreek.
Die kinders is oor hul verskeie regte, maar ook verantwoordelikhede teenoor die regte ingelig.
Olivier het sy kommer uitgespreek oor die misbruik van kinders. Hy het ook die gevare van tienerswangerskap uitgewys, wat nie net die meisies se toekoms belemmer nie, maar ook die seuns s'n. Hy het ook gewaarsku oor die "toetsing" van dwelms en drank.
"Bly weg van dwelms, moenie agter vriende gaan om cool te wees nie. Dwelms vernietig baie lewens."
Goliath het ook die leerders van haar eie ondervinding vertel van swanger wees op 'n jeugdige ouderdom. Sy het hulle gemaan dat as hulle ongemaklik is om enigiets te doen, om dit nie te doen nie.
"Bid is baie belangrik, wees jouself en wees soos God wil hê jy moet wees," het sy benadruk.
Die week se verrigtinge is met 'n kerkdiens by die Diepkloof-jeugsentrum afgesluit, waartydens Saayman die Woord bedien het.
Vorige artikel: Kinders moet beskerm word
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'