Die vergadering is bygewoon deur 77 mense en was die burgemeester van Hessequa, raadslid Emor Nel ook teenwoordig by die vergadering.
Die doel van die Gourits Inisiatief is om deelname in bewarings kwessies meer toegangbaar te maak vir almal, en nie om ‘n uitgesoekte groep of wetstoepassings agentskap te skep nie. Die betrokkenheid en bystand van plaaslike owerhede sal aangemoedig word om te verseker die inisiatief is suksesvol. Daar sal daarop gefokus word om die beste praktyke vir bewaring te bemark.
Sprekers wat opgetree het sluit in Kyle Brown van die Mosselbaai Argeologiese projek, Laurence Watson (NMMU), Jeff Block rakende e-rommel in Eden, dr. Daan Toerien rakende "products fit for a queen" en Rhett Hisemann en Vernon Gibbs-Halls oor Hessequa se Eko-skole en vleilande projekte.
Wat is die Gourits Inisiatief (GI)?:
Die Gourits Inisiatief (GI) is ‘n "cluster biosphere reserve" wat die Klein Karoo insluit en suid strek na Mosselbaai. Die Gourits Inisiatief het ontstaan weens die behoefte om die biodiversiteit van die area te herstel en te bewaar deur middel van vennootskappe, en ook om beide sosiale en ekonomiese geleenthede te skep wat fokus op volhoubare grondbestuurbeginsels vir alle gemeenskappe in die Klein Karoo. Hierdie streek is ryk aan biodiversiteit en endemiese plantegroei.
Dit is ‘n belangrike bymekaarkomplek vir drie belangrike biome, geïdentifiseer as wêreld warm- kolle, naamlik fynbos, struikgewasse en die vetplant Karoo. Die biosfeerkonsep is ontwikkel deur UNESCO se "Man and the Biosphere" (MAP) inisiatief. Dit harmonieer die volhoubare ekonomiese aktiwiteit met natuurlike en erfenisbronne, wat die Klein Karoo perfek maak vir die status. Volgens die riglyne moet die reservate aan die volgende drie funksies voldoen: bewaring, ontwikkeling en logistieke bystand vir navorsing, onderrig en opleiding. Die biosfeer fokus daarop om by te dra tot bewaring van ‘n landskap wat reeds geïdentifiseer is as ‘n globale warmkol. Dit verhoog tegelyk die sosiale, ekonomiese en kulturêle ontwikkeling op ‘n ekologiese volhoubare manier. Onderrig word ondersteun, asook navorsing wat verband hou met die omgewing en menslike aktiwiteite. Daar word voorspel dat die projek positiewe uitkomste sal hê, wat insluit die volhoubare bestuur van natuurlike bronne in die Klein Karoo, die bemarking van alternatiewe werkgeleenthede om die druk op bronne in die Klein Karoo te verminder en gevorderde navorsing, onderrig en opleiding in die Klein Karoo.
*Besoek gerus die Gourits Inisiatief se webtuiste op www.gouritz.com vir meer informasie rakende die inisiatief.

ARTIKEL EN FOTO: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS