Gallery Update
GOURITSMOND NUUS - Dié kusdorp het die somervakansie met hul heel eerste Vis- en Fynbosfees ingelui.
"Ons wou hê mense moet van die N2 afdraai en ons besondere natuurskoon en gasvryheid eerstehands kom geniet," sê Hendie Grobbelaar, wat die fees gereël het.
"Ons wou ook 'n ekonomiese inspuiting vir die plaaslike entrepreneurs en besighede bewerkstellig." Dit is onder die Gouritsmond-bewaringstrust se vaandel aangebied.
Die fees het op 19 Desember met 'n vang-en-vrylaat-hengelkompetisie van eetbare vis begin. "Hoewel die see dié dag maar suinig was, is sewe pragvisse uitgetrek, gemeet en weer laat gaan. Die 37 hengelaars wat deelgeneem het was dit eens dat die kompetisie die begin van groot dinge vir die besoekers was."
Fotogalery: Gouritsmond Vis- en Fynbosfees
Vroegoggend op 20 Desember het die eerste Gouritshond-wedloop plaasgevind. "Ou Gourits was 'n rondloperhond en allemansvriend wat so 'n paar jaar gelede langs die gemeenskapsaal begrawe is. Daar is goedgedink om die wedloop na hom te vernoem," vertel sy.
Altesaam 210 atlete het vir die 5 km-wedloop ingeskryf. Sommige het die afstand deur die dorp saam met familie en vriende gestap. "Die 142 atlete wat vir die 10 km-wedloop met die kuspad langs ingeskryf het kon die lieflike see-uitsig geniet."
Inwoners en besighede van Gouritsmond en Bitouville, asook 'n paar entrepreneurs uit die nabye omgewing het gesorg vir stalletjies wat onder meer kos en Kersgeskenke verkoop het. Daar was selfs 'n tafel met artikels wat tieners van Bitouville uit herwinde materiaal gemaak het. Die dames van die dorp het ook 'n naaldwerktafel gehad. "Ons is baie opgewonde oor veral laasgenoemde wat besig is om in 'n pragtige projek te ontwikkel."
Petronel Baard, Stef Kruger en DJ Foxx het feesgangers met musiek vermaak. Kulkunstenaar Jannie de Bruin en sy bekende pop Tommie Thompson het ook 'n draai gemaak.
Tieners wat aan 'n herwinningskompetisie deelgeneem het se kreatiewe uitrustings het die asems weggeslaan. Charlotte en Stefan Lamprecht van Henque Waste het die wenners met verskeie pryse en 'n trofee wat van herwinde materiaal gemaak is beloon.
Plaaslike besighede het onder meer 'n jenewer-en 'n wynproe, en 'n koffiewinkel heerlike visgeregte en ander lekkernye aangebied. "Sodoende het heelwat mense en besighede bygedra tot 'n fees wat dalk 'n instelling kan word. Ek kan wel bevestig dat die wedlooporganiseerders Koos en Marlene Smit aangedui het dat hulle die Gouritshondwedloop op 18 Desember sal aanbied."
Grobbelaar het Hessequa-munisipaliteit, die hoofborg, hartlik vir hul finansiële en logistieke ondersteuning van die fees bedank.
Die Gouritshond-wedloop is na ou Gourits, die dorp se rondloperhond vernoem.
Lees 'n vorige artikel: Gourits hou Vis- en Fynbosfees
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'