Update
STILBAAI NUUS - 'n Kuier by die oud-uitsaaier Henk Bierman is nie iets wat haastig gedoen kan word nie. Daarvoor is daar heeltemal te veel herinneringe uit 'n kleurryke loopbaan by die ou SAUK wat mekaar moeiteloos opvolg.
Dié man wie se rustige stem tussen 1975 en 1995 sinoniem met Bybel- en taalprogramme, asook die musiekprogram U eie keuse was, reken egter hy het harde bene gekou om as omroeper aanvaar te word.
"Ek het nie eers al die omroeperstoetse wat ek gedoen het voor ek uiteindelik aangestel is, getel nie."
Hy het op 19-jarige ouderdom die eerste keer probeer en 'n toets by Jan Pohl afgelê. Hy het dit nie geslaag nie en vir 'n diploma by 'n Bybelskool in Bloemfontein ingeskryf. Na verwerwing van die kwalifikasie in 1956 het hy en sy vrou Joey, met wie hy in dieselfde jaar getroud is, hul tasse vir Johannesburg gepak. Bierman het 'n paar jaar by die destydse Spoorweë as klerk gewerk en in 1960 vir buitemuurse studie by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) ingeskryf. Moeilike werksomstandighede en 'n besige gesinslewe met drie kinders wat intussen gebore is, het egter sy planne tydelik in die wiele gery en hy kon eers in 1968 vir BA-Admissie inskryf. Na voltooiing van dié kwalifikasie het hy ook 'n honneursgraad in Afrikaans behaal.
Hy het besluit om nie predikant te word nie en het vir ander werk begin rondkyk. Op aanbeveling van sy goeie vriend Fanus Rautenbach van Flinkveria-faam, het hy na 'n paar ompaaie in die onderwys beland.
Oproep van uitsaaikorporasie
Terwyl hy verbonde aan 'n kollege vir onderwysers in Polokwane was, ontvang hy uit die bloute 'n oproep van die uitsaaikorporasie in Johannesburg. Hy het die laaste omroeperstoets geslaag en is vir 'n onderhoud genooi. "Dít was nou 'n konsternasie!" onthou hy laggend. "My hele gesin was in Polokwane en boonop het ek nog 'n matriekgroep én onderwysstudente gehad wat tot die einde van die jaar onderrig moes ontvang."
Op 1 Oktober 1975 het hy uiteindelik as omroeper en regisseur in die godsdiensdepartement begin werk. "Die predikante wat daardie tyd betrokke was, was nou maar eenmaal nie maklike mense nie," mymer hy. "Mens moes jou storie ken en jou programidees goed motiveer."
Onder sy goeie vriende tot vandag toe, tel mense soos Leon Schuster, wat op dieselfde dag as hy by die SAUK begin werk het. "Schuster was van die begin af 'n ongeluk wat plek soek om te gebeur met sy skoorsoekery," vertel hy. "Maar hy het 'n hart van goud."
Tussen die blaaie van sy plakboek met koerantuitknipsels leer ken jy 'n man met diep oortuigings, vir wie halwe werk nooit 'n opsie was nie. Hy het twee keer die Kerkbode-prys vir radioprogramme ontvang en het ook aan 'n hele aantal publikasies saam met bekendes soos prof Ferdinand Deist meegewerk.
Vandag woon hy alleen met sy boeke en musiek in sy rustige huis op Stilbaai, na sy vrou in 2015 oorlede is. Maar eensaamheid sal nooit vatplek aan 'n mens met so 'n ryk en wye belangstellingsveld kry nie.
Vorige artikel: 'n Goue stem en goue herinneringe
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'