HEIDELBERG NUUS - Adjudant-offisier Alroy Windvogel, kommunikasiebeampte van Heidelberg-polisie het net voor sy aftrede na 34 jaar diens, 16 buitelandse winkeliers van Heidelberg en Slangrivier vir hul bydrae tot die gemeenskap bedank met die ingang van die Covid-19-inperking verlede jaar.
Windvogel het sertifikate van waardering aan hulle oorhandig vir die meer as 200 kospakkies wat hulle geskenk het na hy hulle in April genader het.
Volgens Windvogel het die winkeliers van onderskeidelik Ethiopië, Bangladesh en Somalië nie 'n oomblik gehuiwer om die gemeenskap met kospakkies te help nie toe hy hulle genader het.
"Baie dankie vir julle onbaatsugtige gebaar teenoor die mees kwesbaarste gemeenskapslede in hierdie dorpe," het hy gesê. "Julle het bewys dat julle nie net hier is om besigheid te maak nie, maar wel ook om deel te wees van die gemeenskap."
Die groep Ethiopeërs en Somaliese winkeliers vertoon die sertifikate van waardering wat hulle van ao Alroy Windvogel (middel) ontvang het. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'