Gallery
RIVERSDAL NUUS - Goedgegun Pimêr het op 15 Mei 'n familiedag gevier as deel van Internasionale Familiedag.
Die viering is 'n inisiatief van skoolhoof Filicity Adams en is ondersteun deur die polisie, landelike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat ten nouste saamwerk met rolspelers soos die department maatskaplike dienste en die ACVV.
"Dit is die eerste aand van sy soort en die doel is om hegter familiebande te smee," het Adams gesê.
Die tema van die aand in die gebied, wat uitgelewer is aan gesinsgeweld, was 'Wie sien ek as ek in die spieël kyk'? "Wanneer jy in 'n spieël kyk en jouself afvra wie se verantwoordelikheid die opvoeding van jou kinders is, sien jy die persoon wat daarvoor verantwoordelik is. 'n Man en vrou is ook mekaar se spieëls: as jou vrou veragting sien, verag sy ook haarself; as 'n man in sy vrou se oë kyk en respek sien, respekteer hy homself. As kinders sien dat ouers mekaar respekteer, respekteer hulle ook hul ouers."
Die leerders het deur middel van dans en musiek 'n waardevolle bydrae gelewer om die boodskap van liefde en respek aan die waarderende gehoor, wat hoofsaaklik uit ma's en kinders bestaan het, oor te dra. Daar was enkele pa's in die saal, terwyl nog 'n klompie van buite af die gebeure deur die vensters dopgehou en met hul selfone foto's en video's geneem het.
Livvy Paulsen van die ACVV het gesê: "Kinders is 'n geskenk van die Here af. Daar is 'n wet wat sê 'n kind het 'n reg op 'n skoon, veilige huis, goeie gesondheid en die ouers se beskerming. Indien 'n kind nie goed versorg word nie, kan hy of sy nie op skool vorder nie." Sy het ouers gemaan om op te let na hul kinders se gedrag en gemoedstoestand. "As jou kind skielik stil raak, moet jy bekommerd raak, want dalk is hy siek of dalk het iets by die skool gebeur. Pa, ma en kind is 'n familie wat mekaar moet bystaan."
Ao. Mias Oosthuizen van Riversdal-polisie en landelike veiligheids-koördineerder, het gesê dit is 'n pa se verantwoordelikheid om te sorg vir 'n huis en kos op die tafel. "'n Kind se gesin is die anker van sy lewe. Die manier hoe jy leef moet vir jou kind 'n voorbeeld wees. Maak tyd vir mekaar. 'n Huis sonder liefde en omgee werk nie. Sê vir jou kinders jy is lief vir hulle. Gee oorgenoeg liefde, want spyt kom altyd te laat." Hy het vir elke huishouding 'n klein ankertjie van hout gegee, terwyl Beth Paine, voorsitter van die GPF, kaartjies met mooi boodskappies uitgedeel het.
Oosthuizen het ook vir die skool 'n blou budjie geskenk wat een van die kinders dadelik Pietie gedoop het. "Soos die kinders die budjie versorg, moet ouers hul kinders versorg."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'