Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Gewilde prediker, Daniel Oostuizen (61), meer bekend as oom Popeye, is Dinsdagoggend 7 November skielik oorlede.
Dié gemeenskapsmens was sinoniem met St. Andrews Anglikaanse Kerk en Riversdal-begrafnisdienste.
By die kerk was hy lekebedienaar, lid van die kerkbrigade, die Mannebond, Praise en Worship-span, asook die Royal Crusaders Kersfeeskoor.
In die 1970's was hy 'n lid van die Singing Messengers mannekoor, asook jeugleier.
By St. Peters kerk op die plaas Palmietrivier dien hy die gemeenskap op alle vlakke.
In die jare negentigs was hy bestuurslid by Riversdal Kinder- en Gesinsorgvereniging, tans Kindersorg Suid-Afrika.
Hy was ook op die bestuur van Riversdal-rugbyklub.
Die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis van Rensburg, meld in 2014 in 'n bekende Sondagkoerant die impak wat dié prediker op sy geestelike lewe uitgeoefen het.
Popeye was 'n gewilde seremoniemeester, hetsy by troues, doop aangeleenthede of as prediker by begrafnisdienste.
Hy word oorleef deur sy twee kinders en vriendin. Die CMS (Church Men Society) het by 'n privaat geleentheid hulde aan hul lojale broer gebring.
Die roudiens vind Donderdagaand 16 November vanuit die St. Andrews kerk plaas.
Die besigtiging is om 10:00 Saterdag 18 November op Riversdal-rugbyveld, met die dankseggingsdiens daarna om 11:00, waarna die stoet vanaf die veld met die rugbyspelers, kerkbrigade en Royal Crusaders Kersfeeskoor na die kerk sal beweeg waar die diens om 12:00 begin.
Lees 'n vorige artikel: Gewilde prediker sterf
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'