ALBERTINIA NUUS - Albertinia-polisie is op soek na 'n verdagte wat in 'n gewapende rooftog betrokke was. Die voorval het vroeër vanmiddag, Maandag 18 Februarie plaasgevind.
Volgens kapt. Susan Botha, stasiebevelvoerder, is 'n man in die omgewing van Dekriet van sy besittings, onder andere sy skootrekenaar en selfoon, beroof toe hy langs die pad stilgehou het.
"'n Silwer VW Polo het eers verby hom gery, maar toe omgedraai en by hom stilgehou. Die persoon het vir hom vir 'n sigaretaansteker gevra en toe hy terugdraai om dit vir hom te gee, het die man 'n vuurwapen op hom gerig."
Nadat hy dit wat hy by hom in in die voertuig gehad het vir die man gegee het, het hy in die Polo weggejaag.
"Die klaer kon nie 'n registrasienommer sien nie omdat dit in die agterruit vasgeplak was. Hy is ook nie seker hoeveel persone in die motor was nie, maar vermoed daar was ten minste nog een."
Botha het bygevoeg dat sy nie bewus is van enige ander rooftog op die N2 by die vulstasie of Aloe, soos wat beweer word nie. "Ons het verneem van 'n rooftog op Mosselbaai, maar dit is buite ons streek."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'