RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike saagmeule is in die spervuur nadat verskeie klagtes oor geraas, rook, roet en saagsels onder Suid Kaap Forum se aandag gebring is.
Inwoners wat rondom die saagmeule woon het aan die koerant se deur kom klop en telefoniese klagtes is ook ontvang.
Slegs een persoon het egter die moeite gedoen om dit op skrif te stel en by Hessequa-munisipaliteit in te dien.
Hendrik Visser, direkteur beplanning het by navraag aan die koerant gesê dat hy die herhaaldelike klagtes van verskeie inwoners wil ontvang, "... ten einde die klaers breedvoerig te antwoord. Die munisipaliteit het slegs een klagte van een persoon ontvang."
Volgens Gustav Sahlertz, saagmeule bestuurder is die hele industriële gebied waar die meule geleë is, 'n ongeplaveide oppervlakte. Rondom die saagmeuele is daar ander plekke wat 'n baie groter ongeplaveide oppervlakte het, dus is die meule nié die enigste bron van stof wat na die woonbuurtes oorwaai nie.
Volgens Visser is die sonering van die saagmeule se eiendom reg en die lugbesoedeling word gereeld deur die Garden Route-distriksmunisipaliteit waargeneem. "Verslae hieroor is deur die distriksmunisipaliteit aan die munisipaliteit voorsien en dit is ook aan die klaer verskaf."
Die koerant het die munisipaliteit, sowel as die eienaar en bestuurder van die saagmeule gevra waarom dit so naby aan 'n skool, asook die woongebied mag wees.
"Met die dorpstigting etlike jare gelede was die gebied ten weste van die dorp vir grootmaat verwerkingsaanlegte uitgesit, waaronder die graansilo's en koöperasie ook deel van uitmaak." Sahlertz het bygevoeg dat die meule reeds vir meer as 70 jaar bestaan en is as 'n volle saagmeul bedryf. Nou word dit teen 'n laer skaal en kapasiteit as voorheen bedryf.
"Voorheen het hier byna 200 mense gewerk. Nou is hier net ongeveer 50 werknemers. Geraasvlakke het dus afgeneem, aangesien masjinerie verminder het. Die enigste 'verandering' was die in gebruik neem van 'n Bell Logger (driewieler) vir die hantering van saagblokke ongeveer 10 jaar gelede."
Die meule se gebied is reg gesoneer vir die gebruik wat nou plaasvind. Hulle mag selfs 24 uur per dag werk, wat op die oomblik nie die geval is nie.
Die koerant het self ondersoek ingestel en gevind dat die geraas wat deur die verskillende masjiene en toerusting gemaak word, tog baie steurend is. Hierop het Visser gesê dat die munisipaliteit op eie koste 'n onafhanklike akoestiese ingenieur vanuit Kaapstad laat kom het om die klank te meet, wat klaarblyklik vanaf die klaer se erf gedoen is.
"Die verslag wat daarna aan die munisipaliteit oorhandig is, het sekere bevindings ten opsigte van die geraas uitgewys en die saagmeule is hiervan in kennis gestel. Die verslag het sekere aanbevelings gemaak waaraan die saagmeule moet voldoen, ten einde die klank te mitigeer. Hierdie maatreëls is deur die saagmeule aangebring en skriftelike bewyse daarvan is aan die munisipaliteit oorhandig."
Visser het ook genoem dat die meule nie geskuif hoef te word indien eienaarskap verander nie. Hy het wel bygevoeg dat dit absoluut die ideaal sou wees, "... maar die kostes daaraan verbonde sou beteken dat die saagmeule sy deure moet sluit en gevolglik kan 'n klomp werkers hul werk verloor."
Sahlertz het gesê: "Die meul was in bedryf en korrek geplaas van die begin af. Eienaars van residensiële eiendomme was ten volle bewus van die meul en sy werksaamhede toe hulle eiendomme oorkant, of naby die meul bekom het. Die gebied vorm ook deel van 'n industriële gebied, wat ooreenkomstig gesoneer is."
Omdat Barnesstraat nie ruim genoeg vir vragmotors is wat hout op- of aflaai om daar om te draai nie, is die klaer se muur deur 'n trok beskadig. Volgens hom sou die munisipaliteit die muur vervang, maar na bykans twee jaar is dit steeds nie gedoen nie. Geen kommentaar deur die munisipaliteit is hieroor ontvang nie.
Visser sê wel dat 'n draaigebied deur die eienaar van die eiendom aan die einde van Barnesstraat gemaak moet word. "Enige verdere klagtes moet skriftelik aan Hessequa-munisipaliteit gerig word."
Luidens 'n persverklaring van Riversdal Saagmeule:
- Daar bestaan meganismes en prosedures waarvolgens klagtes hanteer word. Die publiek moet egter klagtes baseer word op wetenskaplike beginsels (en nie op emosies en lukrake waarnemings nie) en die bron van die irritante moet behoorlik ge-identifiseer word. Die hele industriële gebied waar die meul geleë is bestaan uit ongeplaveide oppervlaktes met die skou terrein en graan silo area wat ‘n orde grootte meer area opneem as die Saagmeule. Die Saagmeule terrein is dus nie die enigste bron van stof ensv wat oorwaai na die woonbuurtes nie. Gegewe die huidige droogte ontstaan daar ook ‘n klomp stof uit naburige plase sowel as residensiële persele wat met heersende winde in die dorp inwaai.
- Die Saagmeule bestaan reeds oor die 50 jaar (60 -70 jaar??) en was (en word) bedryf as ‘n volle saagmeule huideiglik teen laer skaal en kapasiteit as voorheen. Daar het voorheen byna 200 mense hier gewerk – daar is tans net oor die 50 werknemers. Geraasvlakke het dus afgeneem aangesien masjinerie verminder het. Die enigste “verandering” was die in gebruik neem van ‘n Bell Logger (drie-wieler) vir die hantering van saagblokke ongeveer 10 jaar gelede. Die saagmeul terrein is korrek gesoneer vir die gebruik vir wat tans plaasvind, en die meul mag selfs 24 uur per dag opereer, wat huidiglik nie die geval is nie.
- Die meul was in bedryf en korrek geplaas van die begin af. Eienaars van residensiële eiendomme was tenvolle bewus van die meul en sy werksaamhede toe hulle eiendomme oorkant en/of naby die meul bekom het. Die terrein vorm ook deel van ‘n industriële area wat dienooreenkomstig gesoneer is.
- Ons bevestig die feit dat die munisipaliteit onafhanklike akoestiese toetse laat doen het deur ‘n ge-akrediteerde ingenieurs firma en die resultate en aanbevelings met die meul gedeel het. Alle bronne van geraas van die meul val binne die Wes-Kaapse ordonansies behalwe die Bell Logger (waarmee saagblokke hanteer geskuif word). Op aanbeveling van die verslag is:
i. Die plekke waar die Bell Logger toegelaat word om te werk beperk tot binne die verslag se voorskrifte.
Dit het meegebring dat die area waarbinne die masjien kan opereer en gevolglik die area waarbinne saagblokke gestoor kan word gehalveer is met die gevolg dat die masjien langer ure moet werk – wel binne die afgemerkte area.
ii. Die knal demper op die masjien is aangepas en verander. (die meeste geraas kom van die enjin af wat lugverkoel is en dus nie sag kan funksioneer nie – die knaldemper maak nie ‘n groot verskil nie. Hierdie masjine is so ontwerp en duisende van hulle werk so wêreldwyd.) - Die meule beskik oor ‘n Lug Emissie Lisensie (Air Emission Licence) nommer WCDE018 wat sopas hernu is deur die Tuinroete Distriks Munisiplaiteit. Dit bevestig dat lugbesoedeling beheer word binne die regulasies soos uiteengesit deur die Wes-Kaapse reguleerder.
Lugbesoedeling word gereeld deur die Tuinroete Distriks munisplaiteit gemonitor. - Soos voorheen genoem het die skaal waarop die meule werk afgeneem oor die jare. Om die meule te skuif sal miljoene kos en beslis lei tot die sluiting van die besigheid. Dit sal ‘n beduidende impak op byna 60 gesinne en die ekonomie van die dorp hê.
- Volgens Mnr Leeroy Deane, eienaar en direkteur van Riversdal Saagmeule, verskaf die besigheid permanente werk aan 55 broodwinners in die gemeenskap. Verder dra die besigheid maandeliks meer as R1miljoen by tot die ekonomie van Riversdal.
Ten spyte van die negatiewe impak van die onlangse brande in die plantasies en die effek daarvan op die beskikbaarheid en prys van geskikte roumateriaal op die winsgewendheid van die besigheid is dit Mnr Deane se doel om die besigheid aan die gang te hou en geld te belê in die besigheid (en Riversdal).
Die besigheid het ook ten doel om binne die raamwerke van die toepaslike wetgewing en ordonansies te bly en te werk te gaan.
Die selfsugtigheid van enkelinge kan egter die lewe van 55 broodwinners en hulle afhanklikes negatief beinbvloed, wat op sy beurt ‘n negatiewe impak op die hele gemeenskap teweeg sal bring.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'