Hy is intussen deur ’n groot groep gemeentelede gevra om tot einde Julie aan te bly in die kerk om hulle te help om ongedane take af te handel. Dit het glo so woes gegaan dat die voorsitter van die streek, eerw. Martin van George, na bewering een van die gemeentelede, Pieter Appollis byna verwurg het.
Volgens Appollis wat alombekend is as "oom Twaalf", het hy en nog van die lede die streekvoorsitter versoek om na hulle kant van die saak te luister, toe dié besluit het hy gaan nie en probeer het om die gebou te verlaat. Dit is na bewering toe dat die gemeente die uitgang toegestaan het om hom te verhoed om die gebou te verlaat. Dit is ook glo toe dat die groot Godsman hulle na bewering toegesnou het om uit sy pad te gaan en hulle bestorm het om uit die gebou te kom. Appollis vertel dat dat Martin hom by die nek gegryp het.
"Ek het hom beveel om my te los en hom self ’n paar kruwoorde toegesnou. Hy kan gelukkig wees dis nie so 20, 30 jaar terug nie" het Appollis nog duidelik erg ontsteld gesê.
Die volgende aand tydens wat veronderstel was om Meyer se afsluitingsdiens te wees, waar daar nog predikante van die streek teenwoordig was, het die groep ontevredenes, na bewering die diens "ontwrig" deur hul eie koortjies te sing wat daartoe gelei het dat die diens gestaak is.
Dit was toe dat die groep die streekslede versoek het om hulle kant van die saak aan te hoor. Tydens die gewarboel het een van die ander gemeentelede blykbaar die plaaslike polisie ingeroep onder die voorwendsel dat die ontevredenes die predikante gyselaar hou.
Met Suid-Kaap FORUM se aankoms by die kerk het ‘n polisielid uitgekom en gesê dat die situasie onder beheer was nadat hy die predikante gevra het om na die ontevrede kerkgangers te luister.
Heelwat inwoners het die affêre dopgehou soos hulle verby gegaan het, en party het hardop gevra of dit dan so by die kerke hedendaags gaan dat die polisie ingeroep moet word. Volgens die groep ontevrede kerkgangers voel hulle dat die streek hulle as gemeente moes genader het nadat hulle die bedankingsbrief van Meyer ontvang het.
Hulle is ook van mening dat net ’n paar van die plaaslike lede agter die besluit van die streek sit aangesien dieselfde groep glo al heelwat ander predikante "weggewerk" het. "Hoekom kan die predikante net nie hier by ons hou nie. Dit moet nou ent kry, ons moes al lankal teen hulle opgestaan het" het ’n anonieme lid erg ontstoke kwytgeraak. Volgens een van die kerkraadslede wat verkies om anoniem te bly, is dié toedrag van sake bloot die skuld van Meyer omdat hy nie hulle as kerkraad of gemeente geken het tydens die indiening van sy bedanking nie.
"Nou staan hy eenkant en ons gemeente is verdeeld" was al wat die lid bereid was om te sê. Met betrekking tot die beweerde vloekery van die predikant het die lid dit ontken en net benadruk dat hy geensins kennis dra dat die predikant krutaal gebruik het nie. Intussen is daar Saterdag by ’n streeksvergadering in Oudtshoorn besluit om Meyer vir drie weke te laat "rus" waarna hy ingelig sal word of die streek van sy dienste tot einde Julie gebruik sal maak of nie. Meyer is intussen Sondagmiddag terug Port Elizabeth toe waar sy vrou en twee kinders reeds sedert einde November woon.

Die lede is deel van die ontstoke lidmate wat daarop aandring dat die predikant aanbly om uit te help totdat hulle weer 'n nuwe predikant aanstel.

Pieter "oom twaalf" Appolis wys hier hoe die predikant wat die streekvoorsitter is, hom beetgekry het. Foto: Clive Pretorius
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS