Update
HEIDELBERG NUUS - Die gemeente van die JF Neumann Congregational Church het onlangs tydens 'n spesiale diens hul planne bekendgemaak om die ou Congregational Church, wat in Van Riebeeckstraat geleë is, te restoureer.
Dit sal ongeveer R1 miljoen kos om die 167-jarige gebou te restoureer. 'n Permit is vir die restourasie bekom en die kerkraad het besluit om die restourasieplanne met 'n spesiale kerkdiens aan die gemeente asook die plaaslike gemeenskap bekend te stel.
Die diens is deur ongeveer 200 lidmate en gaste van sover as Oudtshoorn en Pniel bygewoon.
Die diens is deur vier predikante - eerw. Don Sauls, 'n vorige leraar van die gemeente, eerw. Leon Klate, leraar van die Pniel Congregational Church, eerw. Johannes Paige, leraar van Toekomsrus Congregational Church en ook 'n boorling van Heidelberg, gelei.
Ds. Moses Baartman, afgetrede leraar van die VGK wat ook sterk bande met die gemeente het, het ook die diens bygewoon.
Die groep gemeentelede wat in die restourasiekomitee sal dien is van links: Shirley Swartbooi, Johan Cupido, Elize Windvogel, Annelene Hartnick (projekkoördineerder), Tom Erasmus, Adolph Windvogel, Faren February, Alex Marshall, Mark Nicholls, Wilfred February, Franklin Esau, Petrus Silvester en Elizabeth February. Foto's: Clive Pretorius
Eerw. Klate het die doel van die projek aan die gemeente uiteengesit aangesien hul kerk in Pniel 'n soortgelyke erfenisprojek suksesvol aangepak en voltooi het.
Die gemeente is bewus gemaak van die feit dat die projek nie net gaan om die kerkgebou se struktuur te herstel nie, maar om dit in die toekoms te gebruik tot voordeel van die gemeente asook die groter Heidelberg-gemeenskap.
Ná die restourasie sal dit vir sendingwerk gebruik word.
Suster Annelene Hartnick, die projek-koördineerder, het ook kortliks agtergrond gegee oor die projek. Hartnick het gesê hulle is baie dankbaar vir hierdie wonderlike ervaring wat hulle kon hê. "Harde werk lê voor veral ten opsigte van finansiering en daarom nooi ons almal wat die projek wil en kan ondersteun om die nodige bystand te verleen."
Die restourasiekomitee is ook aan die gemeente voorgestel. Hulle is Annelene Hartnick, Faren February, Elizabeth February, Johan Cupido, Adolph Windvogel, Mark Nicholls, Wilfred February, Petrus Silvester, Tom Erasmus en Franklin Esau.
Enigeen wat kan help kan Annelene Hartnick by 072 014 4501 of Faren February by 062 159 2330 skakel. Gebruik ook die e-pos adres jfneumann7@gmail.com.
Hier kan die skade aan die gebou duidelik gesien word.
Die ou Congregational Church in Van Riebeeckstraat in Heidelberg gaan teen 'n koste van bykans R1 miljoen gerestoureer word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'