Thinus Lotz van CARS (Community Animal Rescue Society) het huisbesoeke gedoen en behoeftebepalings gedoen vir inwoners wat hul teefhonde wou steriliseer. Linda Oosthuizen het 'n vriendelike span vrywilligers bymekaar gehad en vroegoggend op Dinsdag, 4 Desember is die wiele aan die rol gesit; van skoonmaak, inskryf, dokumente nagaan en donasies invorder.
Hierdie takie was deur Dawn, hul 'minister van finansies' verrig. Almal moes 'n donasie gee, want hoewel die Hessequa munisipaliteit die sterilisasiekostes dra is daar ander onkostes, soos die diere wat heen en weer vervoer moet word.
Die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel het die kliniek by De Waalville Laerskool Woensdagoggend vroeg besoek en gesien watter groot taak dit is om so 'n kliniek te laat gebeur. Die veearts, dr. Ebervet van Somerset-Wes het oor die twee dae 64 teefhonde gesteriliseer, 4 reuns gekastreer, 16 wyfiekatte gesteriliseer, 6 mannetjies katte gekastreer en 33 diere 'n genadedood toegedien.
Skollie, een van die honde was vir 'n genadedood bedoel omdat sy eienaar besluit het hulle wil hom nie meer hê nie, maar die noodlot het ingegryp en as gevolg van 'n administratiewe fout is hy gekastreer. Gelukkig vir hom het Dawn besluit om vir hom 'n tuiste te gee.
Daar was benoude oomblikke ook soos Siska, 'n teefhond van Vermaaklikheid wat in 'n swak kondisie was wat nie betyds wou bykom nie.
Die vrywilligers het dit gelukkig opgemerk en sy is dadelik op 'n drip gesit, warm gehou en konstant mee gepraat tot sy volkome herstel het. 'n Opwindende oomblik was toe 'n kat wat vir sterilisasie ingebring was, uit sy eienaar se hande geglip en die pad gevat het! De Waalville Laerskool se kinders het die uitdaging geniet, maar CARS se voorslag raakvatter, Markwin Pieterse, hul kleinste helpertjie het nie hierdie kat laat wegkom nie. Sy woorde toe hy dit in 'n hok sit? Die kat kom weer!
CARS bedank almal vir hul bydrae om hierdie kliniek so 'n sukses te maak en sê dit was 'n voorreg om met die
gemeenskap van Heidelberg te werk. 'n Spesiale woord van dank gaan aan Linda Oosthuizen en haar dogter, Ursula vir die goeie reëlings met kos, vervoer en fantastiese geaardheid wat by tye handig was.
Volgens Sandra Lotz is CARS bevoorreg om die finansiële ondersteuning van die Hessequa munisipaliteit te geniet, want daarsonder sou daar vele ongewenste werpsels weer na nog 'n minderbevoorregte huis gegaan het. Sy doen egter 'n beroep ook op die gemeenskap om hul hande en harte vir hierdie organisasie oop te maak sodat hulle met hierdie werk kan voortgaan.
"Ons gaan die feestyd in en sonder bydraes is dit moeilik om die verrigtinge moontlik te maak. Dit is nie net in die mindergegoede woonbuurte wat ons in hierdie tye werk nie. Ons het reeds Vrydag ons eerste hondjie gehad wat sy baas verloor het. Die vreugde was groot toe Smartie, 'n Yorkshire Terrier aan sy eienaar oorhandig is. Sonder fondse kon hierdie bondeltjie vreugde die besitting van enigiemand geword het en was sy eienaar met groot hartseer gelaat, daarom vra ons mooi dat u hier-die feestyd u dierekinders ook onthou en u hand in u sak steek om CARS te help met die taak wat u nie kan verrig nie. Môre is dit dalk u hondjie wat by die deur uitglip," vra sy.
Indien daar mense of besighede is wat hulle finansiëel wil ondersteun, sal dit hoog op prys gestel word. Hul bankbesonderhede is: Community Animal Rescue Society, Absa Bank, Riversdal met rekeningnommer 407 271 6037.
Hulle wens die Hessequa gemeenskap 'n gesëende Kersfees en voorspoedige 2013 toe.
* Die volgende persone word bedank vir hulle hulp en bystand van watter aard ookal tydens bogenoemde sterilisasiedae: May Harris, Dawn Olivier, Ursula Oosthuizen, Annemarie De la Harpe, Ruhanlie Oosthuizen; (kos) Cecile Kleinhans, Kobus Roux, Louise van Eeden; (bakkie en petrol) Honeywood Farm, Danie Oosthuizen.
Sien nog foto's hier.

Markwin Pieterse en nog 'n vrywilliger sien toe dat die honde rustig is en warm gehou word.