Die seremonie, Celebrating the life of Goliath Davids is deur me. Annelene Hartnick, Hessequa wyksraadslid en voorsitter van die bekende Kairos Dramagroep, asook Jason en Ashwille Riddles, geïnisieer om hul mentor, leermeester en vriend se lewe te vier.
Uittreksels uit verskeie produksies wat onder die spelleiding van Davids was, is aan 'n waarderende gehoor van ongeveer 700 mense opgevoer, waarvan sommiges van Riversdal en ander nabygeleë dorpe gekom het om hul eer aan dié ontslape plaaslike drama fundi te bring.
Verskeie produksies soos Sammajoor het die gehoor behoorlik laat skaterlag, waar ander soos Kanna kô huistoe uit die pen van Adam Small, Kinners van die twilight deur sy kleinseun Christo Davids en 'n wonderlike toneel uit Man van Cirene deur F.A. Venter wat deur Davids tot 'n passiespel verwerk en in 2003 deur die Heidelberg gemeenskap opgevoer is, liefdevolle herinneringe aangewakker het.
Die tydlyn waar die groep sy lewe met die aansteek van 'n kers uitgebeeld het, was die hoogtepunt van die huldigingseremonie. Volgens Hartnick het Davids 'n groot erfporsie vir Heidelberg se mense oor die kleur, sosiale grense en intelektuele vlakke heen, nagelaat.

Goliath Davids se kinders spreek hul waardering uit vir die gemeenskap se gebaar.