RIVERSDAL NUUS - 'n Geliefde en bekende Godsman van die AGS Aloeridge-gemeente, William (Willie) Michaels het Donderdag 17 Augustus sy Skepper ontmoet.
Michaels is op Albertinia gebore en is een van 12 kinders. As jong seun van 12 het hy reeds daarvan gedroom om eendag in 'n gemeente te kan preek. God verhoor sy gebed en hy word 'n gemeenteleraar. Hy dien ononderbroke op die kerkraad vir 32 jaar, waarvan 10 jaar as hoofouderling en 17 jaar as visevoorsitter van die gemeente. By die plaaslike Boys Scouts se kamp op Preekstoel-strandoord tree hy as geestelike leier op.
Hy werk vir 19 jaar by die spoorweë as algemene werker. Na die aflegging van werkers by die spoorweë werk hy vir 15 jaar by die Stilbaai/Riversdal-munisipaliteit. Die man met sy klein postuur, breë glimlag en innemende persoonlikheid word 'n bekende gesig waar hy in die watertrok rondry.
In 'n persverklaring deur dr. Henri Weideman, algemene sekretaris van die AGS kerk in Afrika, skryf hy namens die nasionale ampsdraers van die kerk soos volg: "Ons dank God vir die lewe van broer Michaels, wat onbaatsugtig sy lewe aan God, die kerk en gemeenskap gewy het. Sterkte aan sy vrou, suster Ria, sy kinders en kleinkinders, gemeente en gemeenskap."
Die troosdiens het Woensdag 23 Augustus uit die AGS Aloeridge-gemeente plaasgevind. 'n Dankseggingsdiens om dié merkwaardige persoon se lewe te vier, vind Saterdag 26 August uit sy gemeente om 10:00 plaas.
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'