STILBAAI NUUS - Streng reëls en goeie samewerking van die publiek gaan almal se veiligheid verseker.
Personeel in winkels wat essensiële items verkoop word egter daagliks aan moontlike besmetting met Covid-19 blootgestel en moet noodgedwonge streng veiligheidsmaatreëls toepas.
Volgens JC Janse van Rensburg van OK Foods op dié kusdorp het hulle nog net een moeilike klant gehad, wat geweier het dat reiniger op sy hande gespuit word: "Ons het verduidelik wat aangaan en wat in die tydperk moet gebeur en toe het hy ons reëls nagekom." Hy sê iemand wat glad nie gehoor wil gee nie, sal toegang tot die winkel geweier word.
Hulle het klante versoek om eerder met 'n kaart as kontant te betaal en gaan binnekort PVC skerms by betaalpunte aanbring vir addisionele beskerming.
Janse van Rensburg sê hulle sien 'n duidelike verandering in kooppatrone: "Mense koop baie meer vars produkte soos groente en vrugte, na blikkieskos verlede week die vinnigste uitverkoop het."
Peet van Staden van Spar sê hy wonder of dit net Suid-Afrikaners is wat altyd probeer kanse vat:
"Daar is altyd 'n handjie vol mense uit die meerderheid wat dinge wil moeilik maak." Een van die personeellede wat toegangsbeheer toepas vertel van 'n klant wat handreiniger geweier het en net by hulle verby gedruk het, reguit die winkel in. Dis egter die uitsondering.
Volgens apteker Lezanne Kotze, kom Stilbaaiers net vir werklik noodsaaklike redes apteek toe. Meeste bel of stuur e-posse.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'