HEIDELBERG NUUS - Terwyl baie inwoners van dié dorp na ’n huis van hul eie smag, staan’n halfvoltooide huis sedert die projek al sowat 20 jaar gelede begin is.
Die huis in Nichollsingel, Joe Slovo Park dien as vergaderplek vir jeugdiges, waarvan baie hoërskoolleerders is.
Dit is al erg gevandaliseer en volgens van die bure hou dié leë huis ’n groot veiligheids-, sowel as gesondheidsrisiko vir hulle in.
Blykbaar is dwelm- en drankmisbruik, asook seksuele aktiwiteite maar ’n paar van die anti-sosiale bedrywighede wat daar plaasvind.
Al die deur- en vensterrame is totaal vernietig. Van die dakplate is ook erg beskadig en die skade behoort duisende rand te beloop. In elke vertrek is menslike ontlasting en kondome en daar hang ’n erge stank in die lug.
Die bure vertel dat die huis se regmatige eienaar nie daarin belangstel om die erf behoorlik te omhein sodat kwaaddoeners nie so maklik toegang daartoe kan kry nie.
Suid-Kaap Forum se korrespondent, Clive Pretorius, het die eienaar self ongeveer drie weke gelede telefonies oor die kwessie genader. “Hy het genoem dat hy besig is met sy aansoek vir behuisingsvoordele wat vir voormalige weermaglede voorsien word. Hy het egter ook benadruk dat die inwoners hul kinders moet dissiplineer om nie ander mense se persele te betree nie.”
Sedertdien is nog niks deur die eienaar gedoen om die perseel te beveilig nie.
Die koerant het navraag aan Hessequa-munisipaliteit gerig, waarop Hannes Geldenhuys, boubeheerbeampte, bevestig het dat hy op 27 Februarie op die erf inspeksie gedoen het nadat hy ’n klagte van die bure ontvang het. Hy het op Maandag 4 Maart ’n geregistreerde kennisgewing aan die eienaar gestuur om die bouwerk binne 21 dae vanaf die datum van registrasie van die kennisgewing te hervat en te voltooi.
“Indien die eienaar nie gehoor gee aan die kennisgewing nie, sal die aangeleentheid oorhandig word aan die Hessequa regsdepartement en die versoek aan die hof sal wees om die struktuur te sloop.” Hy het bygevoeg dat ’n addisionele kennisgewing in terme van Artikel 21 van Wet 103 van 1977 op Dinsdag 12 Maart aan die eienaar gestuur is.
Lees vorige artikels hier:
Dié gebou is in ’n luukse selfsorg-gastehuis omskep.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'