Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Bejaarde boer is Donderdag 5 Maart in 'n fratsongeluk dood.
Hennie Oosthuizen (82) het omstreeks 15:00 op sy plaas Middeldrift Rand sowat 13 km buite die dorp gesterf na die trekker waarop hy in een van die kampe besig was, agteruit begin loop en in 'n kloof beland het.
"Ons weet nie presies wat gebeur het nie," het Francois, een van sy vier seuns gesê. "Hy was op die trekker besig om gif te spuit.
Die helling is baie steil en ons vermoed hy wou ratte wissel toe die trekker agteruit teen die helling begin afloop." Die trekker het sowat 250 m verder in 'n kloof beland.
"Hy het soms 'n blackout gekry; ons hoop maar dis wat gebeur het en dat hy weg is voor hy seergekry het.
Ons glo die Here het hom daar onder die aalwynbome gaan neerlê waar sy lewe begin het."
'n Werker, Hans Bakela, wat daar naby besig was om volstruisies kos te gee en te kyk het of hulle drinkwater het, het gehoor die trekker raak stil. "Hy het oor die bult gehardloop en gesien die trekker loop agteruit en verdwyn oor die wal."
Volgens Francois was die trekker sy pa se gunsteling werktuig. "Hy het die trekker al sedert 1972 en hy het dit graag gebruik - hy wou nie eintlik hê iemand anders moet nie..."
Hennie het op die plaas grootgeword. "My oupa-hulle het destyds nog met perde en sonder vandag se implemente op die plaas geboer - dit was maar my pa as die enigste seun wat die plaas opgebou het. Dis die ergste: Met alles, oral waar 'n mens kyk, herinner sy handewerk jou aan hom."
Op 'n dag het hulle die familiekerkhof skoongemaak. "Hy het nog gesê hy wil nooit weggaan van sy plek af nie."
Volgens hom was sy pa geliefd by almal. "Hy was lief vir almal rondom hom. Hy het altyd gelag, was altyd bereid om almal te help. Dis 'n waardevolle herinnering aan sy lewe."
Hy word deur sy vrou Joey, en buiten Francois ook Jaco, Lodewyk en Johan, sy skoondogters, agt kleinkinders en een agterkleinkind oorleef.
Die begrafnisdiens vind Vrydagoggend om 10:00 uit die NG Kerk Albertinia plaas.
Hy word op die plaas in die familiekerkhof begrawe en net die naaste familie sal dit bywoon.
Hennie Oosthuizen het op 82 jaar nog self die trekker bestuur.
Vorige artikel: Bejaarde boer verongeluk
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'