Dié plek was die ideale keuse, aangesien dit vroeër jare die Botterkloof Skool was.
Morris en sy suster Susie het daar skoolgegaan en het gereeld agter die kop gaan sit, waar die onderwyser hulle kom haal het omdat hulle nie lus was om skool te gaan nie.
Die huidige eienaars, Gert en Elsa Kruger is baie bewaringsbewus en het die skool gerestoureer en in 'n huis omskep. "Dit was waarlik vir ons Botterkloof-span 'n groot voorreg om Morris Fox se tagtigste verjaarsdag te vier waar hy skoolgegaan en waar sy vrou Martie skoolgehou het," het die egpaar gesê.
Morris en Hennie lyk en aard na mekaar, hul stemme klink dieselfde en hulle is in dieselfde beroep. Wanneer hulle langs mekaar op 'n bank gaan sit, word die bene en arms op dieselfde manier gekruis en gevou - én toe kry hul albei 'n Martie as vrou!
Maar smaak het egter verskil. Morris se Martie is 'n donkerkop en Hennie s'n 'n blondine. Nadat hulle in 1954 hul onderwys-diplomas op Wellington verwerf het, het hul weë vir die eerste keer geskei. Morris het 'n pos in die Boland gekry en Hennie in Oos-Kaapland. Mettertyd het albei met verdere studie hul kwalifikasies verbeter. Morris het by 'n laerskool gebly en Hennie het spesiale onderwys gekies.
In 1978 is Morris as hoof van Stilbaai se kwynende Bertie Barnardskool aangestel. Onder sy leiding het dit tot 'n skool met 'n hoogstaande reputasie op akademiese én sportgebied gegroei. Hy het deeltyds op sy plaas langs die see geboer en 'n strandhuis op sy stukkie seefront gebou. Hennie het hoof van King William's Town se Nywerheidskool geword en is in 1980 as hoof van die Hoërskool Vaalwater op Standerton, een van die grootste vir Spesiale Onderrig in die destydse Transvaal aangestel.
Elke langvakansie het hy en sy gesin na Stilbaai gekom waar hy 'n vakansie-aftreehuis laat bou het. Albei is nog baie aktief en begin nou eers aan aftree dink - om saam te eindig waar hulle begin het. Hulle kan steeds nie maklik afsonderlik onderskei word nie en die een word dikwels vir die ander aangesien.

Morris en Martie Fox in die middel voor saam kinders en kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'