Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Rondloperdiere is hier, soos oral in die Wes-Kaap 'n onderwerp wat nie genoeg aandag geniet nie.
Daarvan getuig talle klagtes van lesers wat aan Suid-Kaap Forum gerig word.
Piet May van Vetterivierrylaan in Riverville vertel hoe tot 20 katte hul weg na sy huis vind omdat hy hulle voer. "Hier is ook trosse honde wat agter ongesteriliseerde tewe aanloop. Daar moet beheer wees - vroeër jare het die munisipaliteit se bakkie rondgery en die diere geskut, maar nou loop hulle oral rond. Ek is 'n diabeet en as 'n hond my byt sal my been afgesit moet word."
Nie alle diere in die woonbuurt is verwaarloos nie. Emile Esau in dieselfde straat is lief vir Tyler, sy Jack Russell, wat hy aanhou om hom te waarsku wanneer ongewenste persone sy eiendom betree.
Willie Richards van Bloubergstrand in Kaapstad, wat Vrydag hier aangedoen het, lê duisende kilometer met 'n fiets en te voet af om hierdie probleem op te los. Sy #WheresWILLIE-projekte samel geld in vir African Tails, 'n internasionale nie-winsgewende organisasie wat rondloperdiere in arm woonbuurte steriliseer.
Kyk 'n video hieronder:
Wanneer sy voltydse beroep as inspekteur in die olie- en gasbedryf ter see dit toelaat, vat hy sedert 2015 die langpad vir hierdie selfopgelegde taak. Sedertdien het hy daartoe bygedra dat 1 740 diere in 2017 gesteriliseer word.
Op die oomblik lê hy 745 km vanaf Stellenbosch na Plettenbergbaai met sy fiets af en beplan om dan dieselfde afstand terug te hardloop om geld in te samel vir die tweede massasterilisasie van diere in Dunoon.
"Volgens die jongste opname is daar meer as 3 000 diere in dié woonbuurt," vertel hy. "'n Mens kan net die ongewenste aanwas stuit as jy 70% van die diere steriliseer. Een teef en reun en hul nasate kan binne die bestek van ses jaar 67 000 klein hondjies oplewer. Daar is nie genoeg liefdevolle huise wat dit kan bekostig om hierdie hondjies aan te neem nie."
Dit kos ten minste R600 om een dier te steriliseer, maar die projek maak dit moontlik om die diens gratis aan te bied. Richards dra sy eie koste en al die geld wat hy insamel word direk in African Tails se rekening inbetaal. "Ek gebruik my gesonde liggaam en vermoë om aktief aan sport deel te neem om diere te help."
Besoek die webtuiste by https://africantails.co.za vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel hier: Manalleen vir minder diere
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'