Vanjaar op Sondag, 27 Januarie het die 'afskop' begin van hul 100-jarige feesvieringe.
Die hoeksteen van die kerk is op 22 Maart 1913 gelê en die Kerkgebou is op 7 Maart 1914 ingewy. Met die 'afskop' is daar heerlik saam partytjie gehou. Niks minder as 17 plaatkoeke is deur die gemeentevroue gebak, daarna is dit op 'n tafel uitgepak in die vorm van die kerkgebou en toe versien om die Kerkgebou voor te stel. Dit het hul vyf ure geneem om die koek te versien wat gepaardgegaan het met heelwat gelag en lekker samesyn.
Sondagoggend na die eerediens het die gemeente se oudste twee lidmate, naamlik Renche Willemse (101) en haar suster, Mona Uys (95) van Huis Zenobia du Toit - die voorreg gehad om die koek vir die gemeente te sny.
Die gemeentelede het toe heerlik saamgekuier en lekker gesmul van die 'kerkkoek'. Nog baie opwindende gebeure lê op hul program tydens die NG Kerk Heidelberg se feesjaar.

Die NG Kerk Heidelberg se oudste twee lidmate, Renche Willemse (101) en haar suster, Mona Uys (95) is gereed om die 'kerkkoek' vir die gemeente te sny.