WITSAND NEWS - Port Beaufort vier vanjaar sy 200ste bestaansjaar – 'n plek wat tereg die vergete hawe van die Overberg genoem kan word.
Om een of ander onbekende rede het die fassinerende verhaal van hierdie hawe byna in die vergetelheid verdwyn.
Miskien het dit iewers in die muwwe doolhof van akademiese navorsing vasgehaak, want Buirski het hierdie aangrypende weergawe van die storie reeds 65 jaar gelede geboekstaaf, en met hierdie uitgawe ter viering van die hawe se ontstaan, word dit nou beskikbaar gemaak aan die oningewydes.
Port Beaufort se verhaal is ten nouste verweef met dié van die ondernemende Barry-familie.
Al was Joseph Barry nie die een wat die plan bedink het nie, was sy toewyding en deursettingsvermoë noodsaaklik om die droom van 'n hawe by Port Beaufort te verwesenlik.
Vir hom het Port Beaufort die sleutel tot die ekonomiese ontwaking van die Overberg gehou.
En deur sy broerskind Thomas Barry in beheer van die hawe te plaas, het hy presies die regte man gekies – hardwerkend, geesdriftig en effektief: Hy het die hawe en die skepe wat hier aangedoen het op so 'n bekwame wyse bestuur dat hy met reg die Prins van Port Beaufort genoem is.
Die historiese pakhuis (die sogenaamde Wolskuur) met sy indrukwekkende gewels en die pragtige klipkerkie is deur die firma Barry & Neefs opgerig, maar is grootliks aan die toewyding van Thomas Barry te danke.
Hy het selfs 'n slaghuis en bakkery op Port Beaufort bedryf.
Dit alles kom aan die orde in hierdie verhaal wat Buirski saamgestel het.
En meer nog – hy vertel van die talle skepe wat hier aangedoen het, die handelsware wat afgelewer en die landbouprodukte wat weer hier ingeskeep is, asook die verhaal van die stoomskip Kadie wat spesiaal in Skotland gebou is om die dorp en Malgas te bedien.
In die verstommende suksesverhaal van die Barrys, skyn die deurslaggewende rol van Port Beaufort deurgaans helder deur. Dit het die handelspoort tot die Overberg geword. Malgas, 'n tweede rivierhawe amper 30 kilometer nader aan Swellendam, het gevolg.
"As mens die storie gelees het, besef jy dat sonder Port Beaufort en die toegang tot die markte wat deur hierdie hawe bewerkstellig is, die Overbergstreek en sy mense straks nooit die opbloei en welvaart van die 19de eeu sou gesien het nie. Die ganse geskiedenis van die Overberg sou anders verloop het." (Dr. Jan H. Langenhoven, Witsand).
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'