ALBERTINIA NUUS - 'n Jong lid van Working on Fire is in die vroeë oggendure van Sondag 2 Februarie oënskynlik sonder rede doodgesteek.
Delano Ntozini sou op 14 Maart 19 jaar oud geword het.
Volgens sy broer Claudio het hy en sy vriende Saterdag die strate sonder enige moeilikheid ingevaar. "Hulle het hier en daar gekuier toe Delano en een van sy pelle 'weggeraak' het."
Claudio en Patricia Uithaler, Ntozini se ma, weet nie wat tot die messtekery gelei het nie.
"Al wat ek kon sien is dat Delano aan sy vriend (naam onbekend) se hemp getrek het en toe sommer met 'n mes gesteek word," het Claudio gesê. "Delano het inmekaar gesak, maar daar was geen bloed aan sy klere nie. Die dokter het gesê hy het binne toe gebloei (inwendige bloeding)." Volgens hom was sy broer 'n regte terggees en het daarna uitgesien om vir die plaaslike Rangers-rugbyklub uit te draf.
Ntozini het ten tye van sy dood reeds vyf maande by Working on Fire op Albertinia gewerk. Groepleier Fiona Dreyer het gesê: "Hy was 'n karakter onder sy kollegas en het hulle aangemoedig as hulle moeg word. Hy het altyd begin met 'n lied as hulle begin oefen."
Volgens Uithaler het sy nie geweet haar seun het so diep in baie mense se harte gekruip nie. "Toe die gemeenskap van Albertinia hoor van sy dood het die WhatsApps en SMS-boodskappe van vriende wat hy die afgelope jare gemaak het, ingestroom. Lede van Working on Fire van Riversdal het ook kom handdrukkies gee en help waar hulle kan." Sy het almal bedank wat die familie bystaan.
Ntozini se begrafnis begin Saterdag 8 Februarie om 09:00 by sy ouerhuis en om 10:00 by die Albertinia-gemeenskapsaal.
Verwante artikel: 18-jarige sterf na mesaanval
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'