Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Klein bobbejaantjie wat wees gelaat is nadat sy ma haar geveg met 'n patroon uit 'n windbuks verloor het en moontlik 'n gewisse dood in die oë gestaar het, het danksy Emtia Hougaard 'n gelukkige einde.
Iemand het hom langs die lewelose liggaam van sy ma gevind en die Hougaards vir hulp geskakel.
Die bang en verwese bondeltjie het sy weg na Riversdal Dierekliniek gebaan, aangesien Emtia en haar seun, Driaan hom as gevolg van die wet nie by hul huis kon versorg nie.
Owerhede was van mening dat dit beter sou wees om hom 'n vroeë genadedood te gee, maar gelukkig is daar mense soos die Hougaards en veeartse met 'n hart om te help.
So het die bondeltjie alleen in 'n hok by die kliniek gesit en diep in die harte van die personeel met sy oulike en ammuserende maniertjies gekruip terwyl die Hougaards gestoei het om 'n permit te bekom.
Suid-Kaap Forum het Vrydag 8 September met Emtia gaan gesels om meer uit te vind. "Ek het met 'Care' in Port Elizabeth kontak gemaak wat my besonder baie gehelp het met reëlings en raad.
"Ek het onderneem om al die papierwerk en permitte af te handel en het reëlings getref met die owerhede om hom te kan verhuis na Limpopo, waar hy 'n sorgelose lewe in die natuur kan lei," vertel sy.
Sy en haar seun het hom drie maal elke dag besoek en gesorg dat hy al die regte kos inkry.
Volgens Rachel Naude-Van der Watt van die kliniek het Monty, soos hulle hom genoem het, 'n regte 'celebrity' geword in die tyd van sy huisvesting.
"As jy met hom praat, antwoord hy met 'n geluid en sou jy hom reg verstaan en iets te voorskyn bring wat hy aan jou verduidelik het, verander sy kommunikasie na 'n breë glimlag, skitterwit tande en skril skree-geluidjies wat sy tevredenheid verkondig.
"Sy klein vingertjies het behendig die kossies gevat en dadelik sy kieste volgestop, maar as die vrug 'n bietjie groter was na sy skatting het hy jou toegelaat om dit vas te hou sodat hy happies kon vat."
Mot, soos hy deur die Hougaards gedoop is, het vir drie weke by die kliniek gebly voor hy deur 'Care' na Monkey Matters in Port Elizabeth vervoer is.
Intussen is Mot deur twee personeellede, asook 'n veeartsenykundige verpleegster na Limpopo vervoer.
Emtia kry gereeld terugvoering oor sy welstand en die vordering van die rehabilitasieproses. Sy ontvang ook foto's van Mot in sy nuwe tuiste.
Sy vertel dat hy binnekort aan sy pleegma, Valentine voorgestel gaan word.
Die Hougaards is bekend dat hulle gereeld met weesgelate diertjies uithelp en sê mense kan hul enige tyd vir hulp skakel by 072 854 8711.
Lees 'n vorige artikel: Bobbejaantjie gered van gewisse dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'