MELKHOUTFONTEIN NUUS - Elf gesinne het Donderdag 15 November trotse huiseienaars geword.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het die huise oorhandig en is deur Chris Onrust (direkteur: gemeenskapsdienste), Margaret Jakobs (voorsitter: gemeenskapsdienste) en Ben Smith (wyk 1) bygestaan.
"In die eerste fase word die eiendom geregistreer en die erf voorberei (waterpunt, riool en registrasie) wat R20 000 beloop. Hierdie is die tweede fase waartydens die voltooide huis, wat oor twee slaapkamers, 'n oopplan leefruimte en kombuis, asook badkamer beskik, oorhandig word.
Dit beslaan 40 m²," het Riddles verduidelik. Dit het R150 000 beloop, wat die totale koste per huis op R170 000 te staan bring.
Die volgende persone het huise in ontvangs geneem:
Colin Paul Buys, Louise Geduld, Hendrik Oktober, Lizetta Naomi Abrahams, Jacob Johannes Saayman, Berenise Heynse, Danell Leze Pietersen, Elizabeth Swart, Daries Paules Pieters, Rosenda Eugenia Michiel en Sonett Jennifer Kombela.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'