Update
RIVERSDAL NUUS - Die eerste Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes in 'n reeks is Maandag 17 Februarie in die Thusong-sentrum aangebied.
Die doel daarvan was om leerders te lei om 'n probleem te identifiseer en 'n kreatiewe oplossing daarvoor te kry.
"Die leerders moet 'n probleem in die landbou, ingenieurswese of watter veld ook al identifiseer," verduidelik Leana Robinson, wat vanjaar as direkteur van die Regional Science Fair in Eden aangestel is.
"Hulle moet dan deur al die fases van probleemoplossing werk en uiteindelik besluit of hul oplossing geskik is."
Hulle kon uit 16 volhoubaarheidstemas kies en het op hul eie of in groepe gewerk. "Ek het gesondheid gekies, want ons buurvrou het tuberkulose en sy moet ver na die kliniek toe stap," het Zuleigah Paulo, 'n gr. 7-leerder aan Panorama Primêr gesê en saam met haar span 'n oplossing gesoek.
Altesaam 76 leerders van gr. 7 tot 12 het van 15:00 tot 18:00 aan die proses deelgeneem. Laerskole Volschenk en Bertie Barnard, asook Voorwaarts, Panorama en Melkhoutfontein Primêre skole het deelgeneem. Hoërskole Langenhoven, Heidelberg en Sao Bras van Mosselbaai, asook Hoër Landbouskool Oakdale het hard gewerk om hul probleemoplossings op A3-plakate uiteen te sit.
Vyf aanbieders van die School of Design Thinking van die Universiteit van Kaapstad het leiding gegee. "Ons lei individue op om mensgesentreerd te ontwerp en moedig hulle aan om kreatief te wees," het Mark Jackson gesê. Dieselfde program is in George, Knysna, Mosselbaai en Oudtshoorn aangebied en altesaam 283 leerders is bereik.
"Hierdie is die eerste treetjie wat die leerders neem om uiteindelik aan die nasionale Eskom-ekspo deel te neem," sê Robinson. 'n Opvolg-werksessie word op 23 April vir Hessequa-dorpe in die Thusong-sentrum aangebied. Daarna volg 'n streekekspo op 15 Mei in die Riversdal-burgersentrum. Dit lei na die Eden Karoo-distrik Ekspo wat op 4 en 5 Augustus in die George-stadsaal plaasvind. Projekte sal daar geïdentifiseer word wat in Birchwood, Johannesburg aan die International Science Fair wat op 22 tot 25 September plaasvind, sal deelneem.
Die skole se deelname is vrywillig en geen koste is daaraan verbonde nie, buiten vervoer wat deur die skole self gereël word. Die Ekspo is finansieel ondersteun deur Eskom, die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) het vir kos gesorg en Hessequa-munisipaliteit het die Thusong-sentrum gratis beskikbaar gestel.
Vorige artikel: Ekspo laat jong breins werk
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'