STILBAAI NUUS - Inperking het meer as huise gegrendel.
Die eiendomsmark, wat 'n groot deel van die plaaslike ekonomie uitmaak, loop ook sleg onder die gevolge van die pandemie deur.
Eiendomsagente met wie Suid-Kaap Forum gesels het, is eenparig in hul onsekerheid oor die res van die jaar.
Cherize Calitz-Rood en Ria du Preez reken die mark gaan beslis stiller wees: "Voornemende kopers is redelik versigtig om nou transaksies te begin. Almal is skepties oor wat die mark inhou." Johan Kirsten beaam dit: "Ons verwag 'n stiller tyd as gevolg van dinge soos afleggings, sluiting van besighede en moontlike verdere inperkings."
Hoewel geen transaksies nog gekanselleer is nie, sê Danie van Rensburg van Jongensfontein almal wag vir die aktekantore om weer oop te maak.
Almal is dit eens dat hul kreatiwiteit in bemarking gedurende inperking goed beproef is. Kirsten sê navrae is heelwat minder omdat voornemende kopers nie weet wanneer hulle toegelaat sal word om eiendomme weer fisies te besigtig nie. Volgens Calitz-Rood het hulle mense wat hul eiendomme in dié tyd in die mark wou sit, gevra om self foto's te neem en aan te stuur: "Ons het beslis ook meer van Facebook-advertensies gebruik gemaak."
Die Estate Agency Affairs Board se kantore is gesluit en Kirsten sê hulle het nie enige leiding in die buitengewone omstandighede verskaf nie. Daar is volgens Du Preez net 'n paar e-posadresse vir navrae op hul webblad geplaas. Agente is op raad van hul hoofkantore, asook akte-prokureurs aangewese, sê Van Rensburg.
Kusdorpe soos Stilbaai en Jongensfontein is baie afhanklik van inkomste uit vakansieverhuring en akkommodasie is gewoonlik vroeg in die jaar al vol bespreek vir Desember. Volgens Calitz-Rood het die aantal aansoeke vir verblyf definitief afgeneem en sommige mense het gekanselleer. Van Rensburg is filosofies oor die saak: "Indien mense mag reis, sal hulle beslis vakansie wil hou. Net tyd sal ons leer." Kirsten reken ook die virus gaan die bepalende faktor bly: "As daar nie 'n drastiese toename in die infeksiegetalle is nie, sal dinge weer min of meer normaal wees."
'n Bedryf soos die eiendomsmark bly egter besonder kwesbaar vir sulke ingrypende skommelinge. Permanente verhuring, wat een van die enigste bronne van standhoudende inkomste is, het ook onder die ekonomiese onsekerheid deurgeloop. Volgens Du Preez ervaar hulle groot empatie vanaf huureienaars: "Hulle is self ook onder druk weens verminderde inkomste, maar was heeltemal bereid om afbetalingsooreenkomste te sluit."
Almal werk maar konserwatief met die inkomste wat daar is, maar uiteindelik bly die kern van die saak in Van Rensburg se woorde: "Ons bly vertrou alles sal regkom."
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'