STILBAAI NUUS - Soos met die eerste Kasselshoop Farm Run, was 'n paartjie weer eerste by die einde van die tweede byeenkoms op Saterdag 31 Maart met Nel en Janine Kotze van die Paarl wat eerste en tweede geëindig het.
Die pretloop is goed deur besoekers, vakansiegangers en plaaslike deelnemers ondersteun met 98 drawwers en stappers wat die 5,7 km-roete begin en voltooi het. Nel het die roete met sand, klip en harde pad in 'n tyd van 23min 30s kafgedraf. Februarie se dameswenner, Liane Wichers was derde, met die 13-jarige Gary Impey vierde en Thys Benson vyfde.
Heelwat kinders het die plaaspaadjies aangepak, met die driejarige Ané van Staden wat die jongste was, terwyl John Hiten en Fritz Louw albei 70 is.
Die volgende plaasdrafstappie vind op 21 April plaas. Meer inligting is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'