Update
HEIDELBERG NUUS - Met die snerpende koue nou op hande het 'n bekende egpaar van dié Oos-Dorp besluit dat hulle graag 'n verskil in kinders van hul tuisdorp se lewens wil maak.
Hul grootwordjare is nog elke dag kraakvars in hul geheue, aangesien hulle as kinders dit ook nie so breed gehad het nie.
Paula en haar eggenoot, Edward Laws van Aalwynlaan, het Woensdag 29 Mei, tien leerders van De Waalville Primêr verras toe sy met 10 paar skoene en kouse by die skool opgedaag het.
Volgens Paula wat die skoene namens haar en Edward oorhandig het, weet beide van hulle wat dit is om die koue in die wintermaande te trotseer.
Sy sê: "Ons moes ook met min klaar kom. Ons ouers was ook maar net gewone algemene werkers."
Volgens Laws is haar man eintlik die groot dryfveer agter die inisiatief en beoog hulle om dit jaarliks te doen en dalk nog te vermeerder.
Sy het die leerders aangemoedig om net hul beste op skool te doen om sodoende hul en hul ouers se omstandighede later te verbeter.
Paula Laws (agter in die middel) met haar kleinkind staan hier met die trotse leerders met hul skenkings. Shalmay Meyers en Pietie Conradie staan ook trots by.
Departementshoof, Shalmay Meyers, het tydens haar kort toespraak haar dank teenoor die Laws-egpaar uitgespreek en die gebaar as 'n Bybelse plig teenoor jou medemens uitgelig. Sy het ook die leerders en 'n paar van hul ouers wat aanwesig was, daaraan herinner om dié gebaar hartlik te waardeer.
"Ouers julle moet toesien dat jul kinders hul skoene voed deur dit gereeld politoer te gee sodat dit langer kan hou. Moet asseblief ook nie loop en klippies daarmee skop of rugby of sokker in die pad te speel nie," het Meyers passievol dog streng gewaarsku.
Pietie Conradie (onderhoof) het op sy beurt ook vir Laws hartlik bedank vir hul bydrae tot die opheffing van hul leerders: "Baie hartlik dank aan u en Edward, ons as skool gemeenskap waardeer u onbaatsugtige diens aan ons leerders."
Lees 'n vorige artikel: Egpaar sorg vir kouevoetjies
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'