STILBAAI NUUS - Hans Kleinhans het op Maandag 4 November sy 20ste jaar saam met die dorp se Duine Mall gevier.
Die geduldige, vriendelike boorling van Melkhoutfontein is vir inwoners en besoekers sinoniem met die sentrum.
Hy het as bode en skoonmaker begin, maar is nou oral waar hy benodig word betrokke.
Hy vertel hoe hy een van die manne was wat die Duine Mall in opdrag van Thinus en Maryna van Heerden help bou het. As verwer was hy een van die laaste werkers wat op 'n Vrydagmiddag in 1999 nog aan die werskaf was. Toe hy op 'n navraag van Van Heerden antwoord dat hy nog nie nuwe werk het nie, is hy daar en dan 'n aanbod gemaak. Kleinhans glo egter sulke sake moet eers met vroulief Johanna bespreek word. Met haar ondersteuning het hy die Maandag by die mall ingeklok en so het 'n lang en gelukkige werksverhouding met die Van Heerdens begin.
Die Kleinhans-egpaar is al 27 jaar getroud. Hulle het ses kinders en 11 kleinkinders.
Kleinhans beplan om aan te hou werk solank as wat hy kan. Hy begin elke dag met danksegging vir die goeie gesondheid wat hy geniet, vir sy werk en vir sy geliefdes. Sy boodskap aan jong mense is eenvoudig: "Waardeer jou werk en pas dit op. Dis nie vanselfsprekend nie." Hy mag 'n man van min woorde wees, maar sy aandeel in die sukses van die besighede in die Duine Mall is groot.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'