Gallery
RIVERSDAL NUUS - RIVERSDAL 'n Plaaslike Bybelstudiegroep het besluit om bejaardes in die omgewing vir Tooi Turkooisdag te bederf.
Die Tooi Turkoois-veldtog het Woensdagoggend 15 Mei in Droom se saal afgeskop en duur tot Saterdag 15 Junie, wanneer Wêreldbewustheids-dag teen die mishandeling van bejaardes plaasvind.
Die doel van die veldtog is om die gemeenskap meer bewus te maak van bejaardes van 65 jaar en ouer in hul omgewing.
Volgens statistiek sal daar regoor Suid-Afrika slegs vir 'n klein aantal mense in tehuise plek wees. Die verantwoordelikheid om na hulle om te sien berus reeds by die gemeenskap, en dit sal in die toekoms toenemend die geval wees.
Ou mense is dikwels sagte teikens vir misdaad, mishandeling, uitbuiting, verkragting en verwaarlosing. Die veldtog is daarop toegespits om bewustheid oor die nood van bejaardes te skep en alle ouer persone in die land sal by groter bewustheid baat.
Liefdadigheids-aksies wys liefde en respek vir hulle en bied die gemeenskap 'n geleentheid om deel van die aksie te word.
Indien jy by die veldtog wil betrokke raak, kontak Droom by 028 713 2526.
Dié veldtog help om die gemeenskap te laat besef dat ook hulle vir ouer persone in hul omgewing verantwoordelik is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'