Update
HESSEQUA NUUS - Landbou in die Wes-Kaap het 'n langtermynplan nodig om die sektor in die provinsie volhoubaar te hou.
"Hierdie is nie net 'n droogte nie, dit is 'n nasionale klimaatsramp," het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaap minister van landbou op 20 November by Klapmuts tydens 'n gesprek tussen Agri Wes-Kaap, finansiële instellings en landboubesighede gesê.
Die doel van die gesprek was om die risiko's rondom die huidige droogtesituasie, asook 'n werkbare model vir die bestuur van die voortslepende droogte te bespreek.
Meyer het onderneem om fondse te bewillig om 'n langtermynstudie met betrekking tot die invloed van klimaatsverandering op landbou in die provinsie te doen.
Hy het vroeg in November aangekondig dat R147 miljoen in beginsel goedgekeur is vir droogtehulp in die huidige boekjaar wat op 31 Maart 2020 eindig.
Die droogtehulp sal na boere in dele van die Wes-Kaap gaan wat nog gebuk gaan onder die ergste droogte in 100 jaar. Hy het versoek dat die Wes Kaap se regering 'n verdere R50 miljoen onmiddellik vir droogtehulp beskikbaar moet stel 'omdat ons nie kan wag in die huidige droogtekrisis nie'.
Hy het gesê dat R100 000 deur die Wes-Kaapse regering beskikbaar gestel word om sielkundige hulp aan boere te bied wat emosioneel ly weens die droogte.
"Dit is noodsaaklik dat alle rolspelers moet saamwerk om die ekonomiese realiteit wat die droogte vir landbouprodusente meebring te bestuur," het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap tydens die gesprek gesê.
Strydom het die lot van produsente in gebiede in die provinsie waar die droogte vir die vyfde jaar voortduur, beklem-toon. Hierdie produsente van langtermyngewasse, volstruise en wild kwalifiseer nie vir die regering se droogtehulp nie en plaasgemeenskappe het humanitêre hulp dringend nodig.
"Ons gaan anders oor rampe soos droogte moet begin dink om die negatiewe domino-uitwerking daarvan pro-aktief te bestuur. Die bydrae van die landbou tot die Wes-Kaap se ekonomie is te belangrik om nié 'n volhoubare sektor te hê nie.
'n Gesamentlike bestuurstrategie tussen alle rolspelers om die huidige omstandighede in die provinsie te bestuur, is nou krities nodig," het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel: Droogte is 'klimaatsramp'
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'