Update
RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie, in samewerking met Langeberg se honde-eenheid in Mosselbaai, het verlede Saterdag 'n misdaadvoorkomingsoptrede teen die misbruik van Sassa-toelae en drank van stapel gestuur.
Die optrede is deur sers. Garnet Damans van Riversdal begin en was spesifiek daarop gefokus om die oorsprong van die misbruik van drank en toelaes op te spoor.
Damans sê in die proses het hulle 14 mense in hegtenis geneem wat dronk was in die openbaar en 'n verdere sewe wat in besit was van gevaarlike wapens, wat skerp messe en kapbyle ingesluit het.
Volgens Damans blyk dit dat die meerderheid mense wat in hegtenis geneem is, ontvangers van Sassa-toelae is.
"Die mense drink hulself in 'n besope toestand in en probeer dan met 'n gesukkel die pad na hul huise aandurf. Party is nie gebore in staat om ordentlik te loop nie en hou hulle onwetend 'n gevaar vir ander padgebruikers in.
"Dis belangrik om kennis te neem dat die verkope van drank, of dit nou vanuit 'n gelisensieerde drankwinkel is of 'n binneverbruik-drankperseel, aan 'n dronk persoon onwettig is en dat die partye wat hul skuldig aan sulke gedrag maak 'n heftige boete in die gesig staar.
Die plaaslike stasiebevelvoerder, lt. kol. Delicia Isaacs het die betrokke lede geloof vir hul puik polisiewerk om 'n positiewe bydrae te lewer tot die bekamping van misdaad in die dorp.
Saam met sers. Damans, was sers. Jakobus Spangenberg (honde-eenheid), konst. Edwin Kortjé, en Johannes Olckers en Lee-John Vaaltyn, beide buurtwaglede. Tydens dié optrede is geen sake van aanranding, roof of huisbraak aangemeld nie.
Van die jong oortreders wat verlede Saterdag in Riversdal in 'n polisieoptrede vasgetrek is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'