Update
RIVERSDAL NUUS - Die voorsitter van die Community Animal Rescue Society op Riversdal, Sandra Lotz, doen 'n beroep op inwoners om enige voorvalle van dooie duiwe op die dorp en omgewing aan te meld by die Riversdal Dierekliniek.
"Dit het die afgelope tyd onder ons aandag gekom dat baie duiwe dood is. Die duiwe toon geen tekens dat hul geskiet is nie. Ons wil graag die samewerking van die gemeenskap vra om dooie duiwe wat hulle teëkom na die plaaslike veearts by die dierekliniek te neem. Ons wil vasstel wat die vrektes veroorsaak. Die duiwe sal weggestuur word vir analise."
Dokter krap kop
'n Bekommerde inwoner, dr. Fernhodt Galant, het tot op hede 13 dooie tortelduiwe in sy tuin gevind. Hy sê dit is moontlik dat die duiwe vergiftig is aangesien geel mieliepitte naby van die dooie voëls gevind is en hy nie mielies in of om sy huis het nie.
Galant het 'n week gelede by sy woning in Proteastraat in Alwyn Fleur op verskeie plekke in sy agtertuin dooie tortelduiwe sien lê - van hulle alleen en ander, twee-twee bymekaar.
Die duif wat hy Sondag 29 Augustus op sy stoep gevind het het geen uitwendige beserings nie, maar in die duif se linkerklou was 'n mieliepit en nog heelwat mieliepitte het op die stoep rondgelê. Galant is omgekrap oor die moontlikheid dat skadelose tortelduiwe 'n wrede, vergiftigingsdood moes sterf.
Vergiftigde duiwe kan ook maklik deur troeteldiere en ander diere geëet word wat dan dié diere se einde kan beteken.
Galant het die dooie duif op die stoep na 'n veearts geneem in die hoop dat hy die oorsaak van die duif se dood sou kon bepaal.
Teen saktyd was die uitslag steeds onbekend.
Die duif het 'n mieliepit in sy klou gehad.
Neem dooie duiwe na die Riversdal Dierekliniek vir analise.
Vorige artikel: Dooie duiwe 'n raaisel; Neem asseblief karkasse na veearts
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'